Zuma moet verantwoordelikheid aanvaar vir ‘Guptanami’

Pres. Zuma , Atul Gupta en Noxolo Kiviet. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma , Atul Gupta en Noxolo Kiviet. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn beroep op president Jacob Zuma gedoen om verantwoordelikheid te aanvaar vir die waarskynlike werkverliese wat weens die Gupta-familie se korrupte uitbuiting van die staat kan ontstaan.

Solidariteit se reaksie volg nadat verskeie van die land se groot banke, waaronder FNB en Absa, onlangs aangekondig het dat hulle die omstrede Gupta-familie en hul ondernemings die rug toekeer.

Dr. Eugene Brink, politieke ontleder by Solidariteit, het gesê hoewel dit weens die Guptas se eie toedoen is dat Suid-Afrikaanse sakelui en die finansiële sektor hulle verwerp het, kan president Zuma se rol in die debakel nie ontken word nie.

“Die Guptas se korrupte en onderduimse saketransaksies is meestal deur president Zuma moontlik gemaak. Indien die Guptas se werknemers nou daaronder ly en hul werk verloor, behoort president Zuma ook aanspreeklik gehou te word,” het Brink gesê.

Brink meen die toekoms van al die Guptas se ondernemings is moontlik weens hul politiekery met president Zuma in die gedrang. “Ander banke en instellings sal moontlik ook hul bande met die Guptas verbreek en die mediaherrie oor hul vertrek uit Suid-Afrika is nog olie op die vuur. Gevolglik kan hul maatskappye se aandeelprys tuimel en dit kan ʼn vernietigende uitwerking hê.”

Volgens Brink lyk dit asof die Guptas geensins besorg is oor hul werknemers se lot nie. “Dit het ook reeds geblyk uit die Guptas se wanbestuur van die Brakfontein-steenkoolmyn buite Delmas wat die familie tans besit. Werkers het vroeër in opstand gekom oor swak werksomstandighede en lone wat nie betaal is nie.”

Die Vryheidsfront Plus het intussen gesê die prys van aandele in die Guptas se maatskappy, Oakbay, word volgens alle aanduidings kunsmatig hoog gehou en die staat moet sy aandele daarin onmiddellik verkoop voordat die prys tuimel en groot verliese gely word.

Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, besit die staat tans deur die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IOK) aandele ter waarde van R256 miljoen in Oakbay.

“Oakbay was onlangs in die nuus toe Absa, FNB en die ouditeursfirma KPMG hul rug op die maatskappy gedraai het uit moontlike vrees vir politieke kontaminasie en/of korrupsie. Luidens ʼn berig in vandag se Bussiness Day is Oakbay tans totaal oorgewaardeer en word sy aandeleprys intussen kunsmatig stewig gehou tot voordeel van die Guptas.”

Volgens Alberts het hy Maandag ʼn brief aan die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, gestuur waarin die minister versoek word om die aandele sonder verwyl te verkoop om skade vir die belastingbetaler te verhinder voordat die aandeelprys begin daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Watse blatante snert gaan Zuma en sy mede surrealistiese makkers nou mee opkom om hierdie situasie toe te lieg? Maar dan staan diensulkes horende doof vir die op en aanmerkings van die Konstitusionele Hoof Regter oor etiese leierskap.

Weskaper ·

Oakbay se aandeelprys het alreeds met 10% geval vandag, so daar gaan ons belastinggeld. Die verlies moet verhaal word van Zuma

Rupert Ashford ·

Daardie tipe ouens gee nooit om vir hulle werknemers en hulle werksomstandighede nie.

alida ·

Natuurlik moet Jacob verantwoordelikheid aanvaar. Hy moet onthou daar is ‘n ding soos die “blinde sambok” en hy slaan dikwels baie hard wanneeer jy dit die minste verwag. God slaap nie !!!

Griet ·

En daar is al die parlementslede se eenmaal-‘n-maand brekfissie saam met die Guptas ook na die maan (of is dit Indië?)

alida ·

Ou Zumpie het lekker ontbyt geniet saam met sy maatjies. As hulle eendag van diè parasiet ontslae is sal hy soos duisende ander mense pap en hoenderpote eet in die tronk waar hy hoort !!!!!

Dan ·

Zuma gaan ook sy job verloor, en ook duisende ander, dit deur een aangejaag het, so dit is logies dat hy die skuldige moet wees.

alida ·

Solidariteit het net nodig om ‘n dringende aansoek te bring met een bede : Mnr Zuma moet van sy amp onthef word met onmiddellike effek. Daar is genoeg bewyse en redes hoekom die Hof dit sal toestaan. Hy kan hom nie uit ‘n hofbevel uit lieg nie !!!!

Plaasjapie ·

Ek stem alida. Lyk my hulle wil dit in soveel woorde hoor. Hulle verstaan nie dat as daar bevind word jy moet terugbetaal dan impliseer dit mos jy het gesteel. As bevind word jy het die grondwet minag dan is jy nie geskik as president nie. Bietjie dom ne…

Koos ·

Die werkers se lot gaan dieselfde wees as die gaval by Aurora. DIk Zuma het hompe steak geeet terwyl werkers i n armoede leef. Banke moet Gupta rk Vries nie net sluit nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.