Zuma ʼn verwysing op CV tydens SAUK-onderhoude

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Dit het Vrydag aan die lig gekom dat pres. Jacob Zuma en verskeie kabinetsministers as verwysings aangedui word op die CV van een van die kandidate wat meeding vir ʼn pos op die raad van die SAUK.

Cikizwa Dingi, ʼn entrepreneur wat voorheen in die kantoor van ANC-hoofsweep Jackson Mthembu gewerk het, het voor die parlement se portefeuljekomitee vir kommunikasie verskyn vir haar onderhoud. Dingi het egter aan die komitee gesê die persoon wat haar vir die pos benoem het, het ʼn ou CV van haar ingedien. Sy het daarna ʼn nuwe CV met nuwe verwysings aan die komitee oorhandig.

Op haar eerste CV is haar verwysing aangedui as Zuma, Mthembu, Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling en president van die ANC-Vroueliga, Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling en Edna Molewa, minister van omgewingsake.

Dingi het ontken dat sy aan die komitee probeer bewys het dat sy politieke bande in vername plekke het in ʼn poging om ʼn posisie op die raad te kry. “Ek kon die verwysings weggesteek het en nie genoem het dat ek by Luthuli-huis in kommunikasie gewerk het nie. Dit is nie ʼn kwessie nie. Ek is nie ʼn politikus nie,” het sy gesê.

Op haar tweede CV word Zuma se naam nie genoem nie, maar Dlamini, Zulu en Mthembu word steeds as verwysings aangedui. “Ek kon ander verwysings daar gesit het en die leiers wat polities [verbind] is weggesteek het, maar dit gaan by die SAUK oor deursigtigheid,” het Dingi gesê.

LP’s het haar ook gehamer oor die voorval toe sy vir Thamsanqa Jantjie aangestel het as die gebaretaal-tolk tydens oudpres. Nelson Mandela se gedenkdiens in 2013. Jantjie se swak tolkwerk het openbaar opslae gemaak en dit het later aan die lig gekom dat hy behandeling vir geestesprobleme ontvang.

Daar is in 2014 berig dat Dingi se destydse werkgewer haar geskors het oor die fiasko. “Ek is nie bewus van enige skorsing of enige bewerings nie,” het Dingi tydens haar onderhoud gesê. Sy het gesê sy glo die “saak waaroor dit tans gaan” is om haarself beskikbaar te stel vir die SAUK-raad.

In ʼn stadium het EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi die voorsitter van die komitee, Humphrey Maxegwana, gevra om Dingi huis toe te stuur omdat sy nalaat om spesifieke vrae te beantwoord. Ndlozi se besware is egter van die hand gewys en Dingi is toegelaat om haar onderhoud te voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Snot ·

Sy lyk my perfek gekwalifiseer vir die raad.
Of misgis ek my nou?

Hanna ·

Nee wat, volgens my is haar verwysing perfek vir die SAUK-raad. Het julle dalk vir een oomblik gereken hulle sal n persoon met n onkreukbare karakter aanstel? Dink weer. Watch this space…

ken van benoni ·

Ek hoop sy noem ‘n paar ander persoonlikhede ook soos die Guptas bv.! Sy behoort die pos tekry.

Hendrik ·

Stel haar gerus aan…ons weet ten minste wie in haar bed is! O ja…en ek betaal nie TV lisensie nie, ek kyk nie hulle septiese propaganda nie…dis die regte ding om te doen!

Chris Hougaard ·

Ongeag wie die nuwe SABC raadslede is,die SABC sal nooit weer uit die modder gelig kan word nie ondermeer vanweë die 90 persent plaaslike programinhoud.
Dit het tot gevolg gehad dat kykers na DsTv gemigreer het en weier om TV lisensies te betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.