Die departement van energie wou nie Vrydag kommentaar lewer op berigte dat president Jacob Zuma direk met Rusland se president Wladimir Poetin onderhandel het vir ʼn kernkrag-ooreenkoms tussen die twee lande nie.
Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat Zuma die minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, opdrag gegee het om die ooreenkoms te onderteken.
“Ons kan nie daaroor praat nie,” het Johannes Mokobane, woordvoerder van die departement, aan die Mail & Guardian gesê. “Dit is onregverdig dat jy die departement om kommentaar nader. Die presidensie moet hieroor praat.” Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, kon egter nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Volgens die Mail & Guardian het ʼn bron binne die ANC aan die koerant gesê dat Zuma in beheer was van die ooreenkoms en die besonderhede daarvan met Poetin uitgeklaar het tydens die Brics-beraad wat in Julie in Brasilië plaasgevind het. Zuma het glo verlede maand in Moskou die ooreenkoms gefinaliseer.
Bronne het aan die koerant gesê dat Zuma daarna vir Joemat-Pettersson opdrag gegee het om die ooreenkoms tydens die Internasionale Atoomenergieagentskap se konferensie in Wene, te onderteken.
Volgens die berig het Zuma die saak nie met die ANC se nasionale uitvoerende komitee bespreek nie en het hy slegs besonderhede aan sy mees getroue LP’s en ministers verskaf.
Daar is vroeër die week aangekondig dat ʼn R500 miljard-ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Rusland bereik is vir die bou van kernreaktors in die land. Die Suid-Afrikaanse regering het egter later ontken dat ʼn kontrak toegeken is en het gesê die lande het slegs ʼn samewerkingsooreenkoms onderteken.
Helen Zille, leier van die DA, het Donderdag geëis dat die regering die besonderhede van die ooreenkoms openbaar moet maak. Volgens Zille is daar al maande lank spekulasie oor ʼn “geheime ooreenkoms” tussen Zuma en Poetin.
Lees ook:
“Nog geen kernkrag-kontrak nie”
SA sluit ooreenkoms met Rusland vir kernreaktors
Hoeveel gaan hy hierdie keer steel?
Was my eerste gevoel ook Fanie.
N skelm by n skelm geen mense sal dit uit hom kry nie net soos met sy kraal skep en skep.Hy maak genoeg geld bymekaar een vd de is hy suid afrika se rykste man .Kry net vir hom n goue toilet klap
Ek wonder hoe lank moet ons nog die Pres se streke verduur, en dan nog daarvoor betaal ook. Dit lyk vir my selfs ou Mac is hierdie keer sprakeloos.
Jy kan die man nie eers met geld vertrou nie, wat nog van kern wapens wat groot gevaar is!