Zuma nie by staatsrede, sê parlement nou

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. (Foto: AP)

Die parlement het Woensdag gesê hy het ’n fout begaan toe hy vroeër die dag op Twitter bevestig het dat oudpres. Jacob Zuma vanjaar se staatsrede gaan bywoon.

“’n Lys van voormalige presidente wat bywoning van #SONA bevestig het, het voormalige president Jacob Zuma verkeerdelik in ’n vorige twiet ingesluit. Die bevestiging was voortydig; ’n korrekte bygewerkte lys sal later vandag versprei word. Die fout word betreur,” sê die parlement nou.

Dit volg enkele ure nadat die parlement die oudpresident se bywoning Woensdagoggend op Twitter bevestig het te midde van omstredenheid oor sy klaarblyklike siekte.

Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-veteranevereniging (MKMVA), sê volgens die organisasie se wete ondergaan Zuma tans behandeling in die buiteland. Die MKMVA het Zuma nog altyd ondersteun.

Maroela Media het verlede week berig dat Zuma nie opgedaag het vir sy hofsaak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg nie. ʼn Siektebrief van 1 Militêre Hospitaal is by die hof ingedien, maar die staatsaanklaer het talle vrae oor dié dokument gehad en die hof het dit verwerp. ʼn Lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming is gevolglik uitgereik en is van krag indien hy nie op 6 Mei vir die hofsaak opdaag nie.

Maroela Media het ook vroeër berig Zuma se regspan het boonop verlede maand aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê die oudpresident is te siek om voor die Zondo-kommissie te verskyn.

Zondo het vroeër ’n aansoek van die kommissie se eie regspan aangehoor dat Zuma gedagvaar word om van 27 tot 31 Januarie voor die kommissie te getuig, nadat hy nie op die afgelope drie geskeduleerde verskyningsdatums opgedaag het nie – elke keer met ’n ander verskoning.

Oudpresidente FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe, voormalige adjunkpresident Baleka Mbete en oudspeaker Frene Ginwala het reeds bevestig dat hulle vanjaar se staatsrede sal bywoon.

Die staatsrede vind vanaand omstreeks 19:00 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Weet jy – as hy nie daar wil wees nie – hoekom moet die SAAK altyd uitgestel word. Kry al die bewyse en as die aanklagte suksesvol is, gaan arresteer hom en smyt hom waar hy hoort – in die tronk.

marius ·

Sal mnr niehaus nie bereid wees om in sy plek te staan nie ?

johan ·

die ou is te besig met “skelm streke” het nie tyd vir die klomp nie want hy besef hy het klaar alles opge…

Wondermaarnet ·

Daar gaan sy gratis ete en drank lol. Darm hoef die blastingbetalers nou nie op te dok vir hom en sy vrou vir nuwe klere vir die staatsrede nie.

charmaine ·

Hy is seker bang hy moet in n vangwa klim dit sal die cheery op die koek en die grap van die jaar wees as hulle hom daar kan vastrek. Shame nou mis hy uit op die kos en die dans en die after party wat ons tax payers moet betaal.

Pieter ·

Die ANC het seker besef dat sy teenwoordigheid aanleiding sal gee tot baie ongemaklike vrae, vanweë sy kamstige siekte en swak siekbrief. Nou bly hy maar uit die openbare oog. Wys net wat se skelms met geen greintjie integriteit hulle is.

Mieke ·

Snaaks dat sy siekte briefie in SA geskryf is terwyl hy oorsee gaan vir behandeling..

Nie Verbaas ·

Zuma, jou dag kom. Jy behoort after tralies. Verskonings raak vervelig. Sluit hom toe!!!!

Marie ·

Sien de Klerk gaan daar wees…..nou gaan ek vanaand kyk om te sien wat die EFF gaan doen, aangesien hulle gesê het hulle wil nie saam hom in een vertrek wees nie.

Eragrostis ·

Eish, uitgevang. Nou moes die regering weer vinnig terug krap nadat alles gereël was en Zuma daar sou wees. Hulle het net vergeet van die strategiese taktiekspel van Zuma wat mos skielik so ‘siek’ geword. Die ANC moet mos saam speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.