Zuma ontken ‘ekstra salaris’

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Pres. Jacob Zuma het Donderdag tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering vrae beantwoord oor berigte dat hy ’n “salaris” van R1 miljoen per jaar van ’n omstrede tendermagnaat ontvang het.

Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw skryf in sy nuutste boek, The President’s Keepers, dat Zuma die geld ontvang het sonder om dit aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te verklaar. Mmusi Maimane, leier van die DA, het Zuma gevra of hy enige tyd sedert hy as president aangestel is van enige persoon of maatskappy vergoeding ontvang het.

Zuma het geantwoord dat hy nie in sy termyn by enige persoon of maatskappy betalings ontvang het nie. Hy het gesê betalings wat hy ontvang het is aan die nodige owerhede verklaar. Maimane het gesê hy glo nie vir Zuma nie, waarop Zuma gesê het dis nie sy werk om op bewerings in boeke te antwoord nie.

Shaik Emam, NFP-LP, wou by Zuma weet waar die bewerings vandaan kom en wat die mense wat die bewerings maak se doel is. Zuma het laggend hierop geantwoord dat hy nie weet hoekom mense die bewerings maak nie.

“Daar is baie boeke oor Jacob Zuma. Daar is daagliks artikels en mense wat op TV en radio praat, maar ek kan nie vir jou sê hoekom hulle dit doen nie.” Zuma het wel gesê as hy moet spekuleer, sal hy sê dis omdat hy die grootste party in die land lei en dat dié party die regering is.

Volgens Zuma is dit alles pogings om die ANC te ondermyn. Narend Singh, IVP-LP, wou by Zuma weet of dit sy finale antwoord is dat hy nie geld ontvang het nie.

“Ja, dit is my finale antwoord,” het Zuma laat hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

zoom zoom ·

Hy sal mos nie erken dat hy iets gekry het nie. Dit is taktiek om ondersoek net verder te vertraag. Die man is ‘n genius. He He He.

Cherokee ·

Toe hy gevra word of hy ekstra salaris ontvang het, het hy die ‘nee’ afgelees vanaf die papiere voor hom. Die LP’s dink dikwels bloot stadig. Iemand moes hom gevra het wie die antwoord voorberei het wat hy afgelees het. Hy is bloot om ‘n ja of nee gevra.

PIPPY ·

Ai mense, vanuit ons president se antwoorde kan ons aflui het het slegs ‘n standerd 3 op skool voltooi. Selfs ek, wat glad nie presidents-materiaal is nie, sal met beter antwoorde vorendag kon kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.