Zuma ontken gerugte oor studentegelde-aankondiging

President Jacob Zuma in die parlement. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma het Sondag mediaberigte ontken dat hy van voornemens was om ʼn aankondiging te maak oor gratis tersiêre onderrig tydens sy staatsrede in Februarie.

“Die storie in die Sunday Times-koerant, wat berig dat pres. Zuma van plan was om gratis tersiêre onderrig tydens die staatsrede aan te kondig, maar dat hy deur die nasionale tesourie verhoed is om dit te doen, is vals,” het Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, gesê.

Zuma het glo nooit beplan om só aankondiging te maak nie. “Die fokus van die staatsrede was radikale ekonomiese transformasie, wat gelei het uit die ANC-kongres se verklaring van 8 Januarie en die kabinet- en regerende party se makgotla,” het hy gesê.

Zuma het ʼn kommissie van ondersoek, onder leiding van regter John Heher, aangestel om gratis hoër onderrig te ondersoek. Zuma wag nog vir die kommissie se finale verslag. “Hy het in geen stadium beplan om enige aankondiging te maak wat die werk van die kommissie sou ondermyn nie,” het Ngqulunga bygevoeg.

Zuma het die interministeriële komitee oor hoër onderwysfinansiering, onder leiding van minnister in die presidensie Jeff Radebe, en die presidensiële fiskale komitee, opdrag gegee om die Heher-kommissie se verslag te bestudeer en dan aanbevelings aan hom te maak hoe om op die inhoud te reageer. “Enige stappe sal die gevolg wees van noukeurige oorweging deur die betrokke strukture in die regering,” het Ngqulunga verduidelik.

Die Sunday Times het berig Zuma wou al in Februarie vanjaar gratis hoër onderrig aankondig, maar die nasionale tesourie het hom glo in sy spoor gestop toe Pravin Gordhan nog die minister van finansies was.

Dit het egter vroeër vandeesweek aan die lig gekom dat Zuma sal voortgaan met sy plan om gesubsidieerde hoër onderrig vir behoeftige studente (uit gesinne wat gesamentlik minder as R350 000 per jaar verdien) aan te kondig, ondanks ʼn waarskuwing van die interministeriële komitee dat dié plan ʼn risiko is vir die ekonomie, berig die koerant.

“Zuma se plan is die breinkind van Morris Masutha, die ekskêrel van Zuma en Nkosazana Dlamini-Zuma se dogter, Thuthukile. Bronne sê verskeie vergaderings het verlede week met Zuma plaasgevind, aangesien hy wil hê die tesourie moet die geld vind om Masutha se voorstel te finansier. Bronne binne die tesourie sê Zuma se plan het Michael Sachs, adjunk- direkteur-generaal by die begrotingskantoor, warm onder die kraag, en hy het glo gedreig om te bedank indien die president met dié plan sou volhou,” berig die Sunday Times.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jwm ·

Steeds dieselfde modus operandi van ontken, lieg, mors van tyd en geld. Sal die arme studente na dese ooit hulle professie in hierdie land kan praktiseer?

zoom zoom ·

Ja dit is ou he he he he homself. Die een wat nooit iets sal erken nie.

G ·

Betaal dan sommer ons almal wat nog met studieskuld sit, se geld (met rente) terug. Ek kan nie sien hoekom net sekeres bevoordeel moet word, terwyl ander moes hard werk vir hul grade nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.