Zuma: ‘Phiyega nie ondersoek nie’

Riah Phiyega

Riah Phiyega

President Jacob Zuma het nog nie ʼn kommissie aangestel om bewerings teen Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, te ondersoek nie.

“Mediaberigte in die verband is nie korrek nie,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, gesê. Volgens ʼn berig in die Sunday Independent het Zuma ʼn ministeriële ondersoek versoek na Phiyega se optrede. Die polisie het glo reeds die terme van verwysing gefinaliseer en regsadvies ingewin.

Volgens die berig gaan die komitee onder meer bewerings ondersoek dat sy lt.genl. Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiehoof, ingelig het oor ’n ondersoek teen hom. Daar word ook beweer dat Phiyega die publiek mislei het toe sy beweer het dat sy onbewus was van strafregtelike aanklagte teen lt.genl. Mondli Zuma toe sy hom as Gautengse polisiehoof aangestel het.

Phiyega se woordvoerder wou nie Maandag kommentaar lewer op die berigte nie. “Die nasionale polisiehoof sal op die regte tyd kommentaar lewer,” het lt.genl. Solomon Makgale gesê.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het in Oktober verlede jaar gesê hy gaan ondersoek instel na bewerings dat Phiyega vir Lamoer gesê het van die ondersoek teen hom. Opod het na die ondersoek die saak na Mxolisi Nxasana, nasionale direkteur van openbare vervolging, verwys.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vroeër die maand aangekondig dat hy nie vir Phiyega van regsverydeling gaan aankla nie. Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, het destyds gesê die direkteur van openbare vervolging het na oorweging van verklarings en bewyse besluit om Phiyega nie te vervolg nie.

The Witness het Maandag berig dat daar nuwe bewerings teen Phiyega is. Sy het glo beslag gelê op foonrekords van die Durbanse sakeman Thoshan Panday. Johan Booysen, geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, het die foonrekords bekom tydens sy ondersoek na Panday vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn tender van R60 miljoen vir akkommodasie vir polisiebeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.