Zuma: ‘SA is verbind tot wen-wen vennootskap met Iran’

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma het Sondag tydens sy besoek aan Iran gesê Suid-Afrika is verbind tot ʼn billike ekonomiese vennootskap met Iran op ʼn wen-wen grondslag.

Zuma het aan die Iran Business Forum gesê Suid-Afrika veroordeel die instelling van eensydige sanksies teen Iran en loof die opheffing van baie daarvan. Volgens Zuma het dié sanksies ook ʼn negatiewe uitwerking op Suid-Afrika se eie ekonomiese ontwikkelingsagenda gehad, aangesien Iran een van Suid-Afrika se grootste verskaffers van ru-olie was voordat sanksies ingestel is.

“Ons het egter steeds ons verbintenisse binne die gesamentlike kommissie behou, wat ʼn hoeksteen is van ons bilaterale verhouding wat in 1995 vasgestel is,” het hy gesê.

Suid-Afrika beskou Iran as ʼn strategiese handelsvennoot in die Midde-Ooste en Sentraal-Asiese gebiede en deel ʼn lang geskiedkundige verhouding. “Totale handel het ongelukkig oor die afgelope dekade afgeneem weens, onder meer, die gebrek aan bankverhoudinge tussen Suid-Afrika en die Islamitiese Republiek van Iran en die sanksies wat deur die Weste ingestel is,” het Zuma gesê.

Volgens Zuma het die totale handelsyfer tussen die twee lande in 2015 op R358 miljoen gestaan, maar dit weerspieël nie die optimale vermoë van die twee ekonomieë nie. Daarom het Zuma en pres. Hassan Rouhani Sondag ooreengekom om nie-olie handel tot $1 miljard te vermeerder teen 2020, het Zuma gesê.

“Dit is noodsaaklik om daarop te fokus om ons onderskeie handelsmandjies te diversifiseer ten gunste van handel op toegevoegde waarde. Dit sal baie bydra om kwessies soos werkskepping en die oordrag van vaardighede en tegnologie tussen die twee lande te hanteer.”

Zuma het Sondag ʼn ooreenkoms met Iran onderteken om ʼn gesamentlike beleggingskomitee op die been te bring wat samewerking tussen die twee lande sal monitor en aanmoedig. Die ooreenkoms was een van agt wat SA en Iran onderteken het.

“Ons land bied ʼn verskeidenheid nywerheidsektore en ʼn groot aantal mededingende nywerhede, oorvloedige natuurlike hulpbronne en goed-ontwikkelde vervoer en logistieke infrastruktuur. Suid-Afrika bied baie geleenthede, nie net vir toegang tot ʼn groeiende plaaslike mark nie, maar ook as ʼn basis vir die ander markte van die Afrika-kontinent wat dinamies groei,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Hy noem die sanksies teen Iran ‘eensydig’. Werklik te dom om die rede daarvoor te verstaan.
Wanneer hy sê Suid Afrika veroordeel die instelling daarvan en loof die opheffing van sommige praat hy nie namens my.

Loeis ·

Ek moet met jou verskil. Dit is dieselfde George Bush wie so gelieg het oor wapens van massavernietiging in Irak wie met dieselfde verskoning vir sanksies (en moontlik oorlog – wat gelukkig nie gebeur het nie) teen Iran gedruk het.

En vir eens is Zuma reg: Suid-Afrika se raffinaderye is gebou vir die tipe olie wat Iran uitvoer. Mens wonder net of hy hierdie toespraak self geskryf het, dit klink na iets bo sy vuurmaakplek.

Cherokee ·

Ek verskil met jou in die opsig dat olie nie deel vorm van my oorwegings nie. Al waaroor my redenasie gaan is dat moslems nie oor kernwapens moet beskik nie. Nie dat dit veel veiliger is in enige ander hande nie maar steeds erger in diè van Oosterse lande. En miskien moet jy weer dink oor wat jy sê van George Bush. Dit is tog algemene kennis dat Iran reeds kernbomme getoets het.

Wynand ·

Goed ontwikkelde vervoer en logistieke stelsel? van waar gehasie??

humor ·

Duidelik, hierdie verslag kom nie uit sy kop, mond en pen nie.

jaco ·

Ek hoop sy besoeke aan Saoedi-Arabië en Iran beteken ons petrol gaan goedkoper word en goedkoop bly

snoefie ·

die man is besonders lief om sy gatgabbas tussen die verdrukkers van vroue the gaan uitkrap. China , India nou Iran. en staan verbaas die mammas van die vroue liga verdedig hom en Stein hom aangesien hy hom duidelik by die onderxrukkers van vroue skaar.

Veritas ·

Daar moet ‘n verskuilde rede wees waarom Oom Jacob, die laaste tyd, so dikwels die midde-ooste besoek. Dalk is hy besig om so stil-stil ‘n aftree-oord te soek. Ek sou as ek hy was.

Frederik ·

Miskien ‘n nuwe persoon wat hierdie keer sy toespraak geskryf het, want hy het ook maar gesukkel om dit te lees. Heelwat woorde was bo sy vermoë en het hy verkeerd uitgespreek.

Willie ·

So word Suid Afrika stukkie vir stukkie verkoop aan sy kaders! Daar is definitief weer iets vir die verlengde familie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.