Zuma-saak: ‘Parool is ook straf’

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Adv. Dali Mpofu het Maandag in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein aangevoer dat parool ook ʼn vorm van straf vir sy kliënt, oudpres. Jacob Zuma, sal wees.

Mpofu het Zuma se saak voor die hof gestel nadat die voormalige president ʼn appèlaansoek oor sy vrylating op mediese parool ingedien het.

Zuma is glo “terminaal siek” en Mpofu meen dat dit gronde is dat ʼn hooggeregshofbesluit – dat hy moet terugkeer tronk toe om sy straf vir minagting van die hof uit te dien – ter syde gestel moet word.

“Hoekom sal ʼn hof beter weet as mediese kenners? Mediese kenners sê hierdie man is terminaal siek,” het Mpofu gesê.

Hy het daarop aangedring dat Zuma “soos almal anders geregtig is op die beskerming wat deur ons Grondwet gebied word.”

Maribolla Mphahlele, die prokureur wat die gevangenisdiens verteenwoordig, het gesê ʼn dokter het reeds bevestig dat Zuma “aan ʼn terminale siekte of ʼn toestand wat chronies en progressief is” ly.

Die dokter het parool aanbeveel weens Zuma se “onvermoë… om die aktiwiteite van die daaglikse lewe of selfversorging uit te voer” aangesien sy toestand “geleidelik versleg het sedert 2018,” het Mphahlele gesê sonder om verdere besonderhede te verskaf.

Die 80-jarige Zuma is in September verlede jaar op mediese parool vrygelaat nadat hy net twee maande van sy 15 maande lange tronkstraf uitgedien het. Hy is aanvanklik gevonnis nadat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek het te getuig.

In Desember het die hooggeregshof sy vrylating omgekeer en die besluit as “onwettig” bestempel. Zuma was beveel om die res van sy vonnis in aanhouding uit te dien.

Zuma, wat in Junie verlede jaar gevonnis is, se tronkstraf sou nou reeds amper uitgedien gewees het, mits hy vir die volle 15 maande agter tralies gesit het.

Die hof het Maandag die uitspraak in die saak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

PieterJ ·

Ek sukkel effe om te simpatiseer met sy “terminale” siekte.

Sonblom ·

Ek sukkel ook. Ek lees hier van ‘n 80 jarige man, en dan onthou ek van wie hier gepraat word. Mens moet maar boet vir jou sondes.

Harley Davidson ·

Weereens ‘n bewys dat almal nie gelyk is onder die wet in die piesang regering nie ,shabir shaik het ook so tronkstraf vermy maar oscar wat nie bene het nie sy tronkstraf is verleng.

Nie Verbaas ·

Siestog. Hoekom word Zuma nie deur onafhanklike en onpartydige dokters ondersoek om nou werklik vas te stel of hy regtig “so siek” is nie? Hoekom mag sy mediese rekords ook nie bekend gemaak word nie? Want hy lieg.

BenA ·

Stemsaam as dit vir Zuma geld …wat van Valosh, Oscar en daai tyd Lewis.
ANC en regering is n verkleur mannetjie

Magda ·

Net Soos sy “handlanger Shabbir Shaik” terminal siek is, en nog vol lewe di hele wereld vol is. Wonder Waar hulle Gaan studeer het, want duidelik is daar n Groot fout iewers. Di deler is net so goed Soos di steler.

Voilet ·

Hy makeer niks, net klomp verskonings. Hoe is dit dat hul alewig weg kom met alles???

Jean ·

Hy was deel van die click al van daai tyd af, so hulle beskerm mekaar.

JohnnyS ·

Ons almal lei aan terminale siekte en gaan een-of-ander tyd sterf, hulle noem dit oud word.

Witbaard ·

Hou hom dan gereeld in die hof, moenie dat hy sy laaste dae geniet nie

henndrik ·

Ons het duidelik verskillende opinies oor wat straf is of nie. Ek stel voor hy kry parool op voorwaarde hy gaan bly saam met die mense wat die meeste deur sy (en ander ANC kaders) se diefstal geraak is met dieselfde hulpbronne as hulle dat hy die implikasie van sy optrede kan verstaan

Misky ·

Die feit dat hy ooit as president van SA aangestel is, is ‘n straf vir hele SA.

Kokerboom ·

Twak mnr Mpofu. U en Zuma is aartsoppotunisme wat die regstelsel verkrag met u kwaadwillige sienings! Kriminele moet boet vir hul oortredinge

Kobus ·

“Hoekom sal ʼn hof beter weet as mediese kenners? Mediese kenners sê hierdie man is terminaal siek,” het Mpofu gesê….help my reg asb. Ek het verstaan dat die mediese raad juis aanbeveel het dat Zuma gesond genoeg is om sy straf uit te dien. Toe besluit agbare Frazer anders, maw Adv Mpofu, weet Frazer in die geval meer as dokters? Die hof reageer bloot op feite , nie emosies nie. Zuma was tot onlangs nog gesond genoeg om ” Bring my geweer…” te sing en dans. Hy lyk vir my heel vrolik en opgewek.

SjN ·

Volgens my beteken om teminaal siek te wees moet jou lewensduur minder as 12 maande wees, kader Shaik is mos die voorbeeld van hul mediese ordonans se inligting.

Boer ·

Sy paroolvonnis moet seker baie erg wees om saam met Shabir Shaike gholf te speel!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

PieterJ ·

Tipiese laerskool vlak, opsigteike leun-tipe verskoning soos “die hond het my huiswerk geeet”. Ek pes dit as ander dink my intellek is op dieselfde vlak as die ander 95% van die bevolking.

Johann ·

ek wonder watse siekte hy aan ly seker maar kriminales diefedus dit sal verduidelik hoekom hy nie kan tronk toe gaan nie want dis terminaal as hy nie die 5 finger discount behandeling kry nie.

Cecilia ·

Hy lyk nie só terminaal as hy en sy kaders by Nkandla dans nie.

Michael ·

Die Kon Hof se vonnis was onwettig. Hulle het nie sulke magte nie. Dit moet eerder ondersoek word

Tania ·

Hoekom kry hulle nie ‘n onafhanklike dr wat hom kan ondersoek en die besluit gee nie? Want ek weet hy jok?

miraclealigner ·

Soos van die kommentaar ooknoem, as die dokters reken mense is ‘terminaal’ dan is hulle seker ‘terminaal’ … In die geval van Shabir Shaik is sy behandeling seker voorgeskryf as om chronies golf te speel. En in die nar se geval is hy dalk ‘terminaal’ maar, maar is ons nie almal maar uiteindelik ‘terminaal’ nie? Die lagwekkende sirkus is baie meer pret om na te kyk as die sepies wat op die TV is.

Waarnemer ·

Neh!Terminaal of chronies daar is mos mediese hulp in die gevangenis.

Frances ·

Wat van Janusz Walus wat al 28 jaar sit, hy het sekerlik ook al sy straf uitgedien!

Jr ·

Dali mphofu – worst advocate ever in South Africa. Terminaal siek. Ha ha ha.

Althes ·

Met al die ernstige aanklagte van korrupsie teen ons vorige prez, wonder ek hoe ‘eg’ is die mediese kenners se opinie.
Shabir Shaik was ook volgens Zuma terminaal siek, en wonderwerke op wonderwerke het met Shaik gebeur. Hy kon selfs gholf weer speel.
Wie glo hierdie gekkespul? Dali Mpofu die publiek se intelligensie onderskat jy mos.

Catherina ·

Enigiets verbonde aan enige Zuma, sal nooit iets van kom nie. They are in control.

Anel ·

Hy lyk vir my lekker vet en uit gevreet en lewendig vir ‘n terminale siek mens!!!

fs ·

Gits maar die man bly mos baie lank “terminal” siek…. Terminaal in mediese terme (vir die kenners wat hom terminaal verklaar het) is ‘n siekte wat binne gemiddeld 6 maande sal lei tot die dood van die pasient, daar is geen kans op herstel. Mnr leef nou al jare met die “terminale” siekte….hoe nou… dalk moet die “mediese kenners” so nou en dan weer na hul diagnoses kyk… hy is so min terminaal as wat ek is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.