Zuma-saak: Shaik sal net dán getuig

Voormalige president Jacob Zuma. Foto: Ayanda Ndamane/African New agency

Schabir Shaik het Maandag berigte verwerp dat hy gedagvaar is om in die dreigende korrupsieverhoor van voormalige pres. Jacob Zuma te getuig.

Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aangekondig dat hy die dekade oue aanklagte, wat met ʼn omstrede wapentransaksie verband hou, weer teen Zuma ingestel het.

Abrahams het gesê Zuma sal wel in die hof moet verskyn en hy meen daar bestaan ʼn redelike kans dat vervolging suksesvol sal wees. Daar is 16 hoofaanklagte oor 783 beweerde voorvalle van korrupsie (2), bedrog (12), geldwassery (1) en rampokkery (1) wat weer teen Zuma ingestel sal word.

Die DA het in reaksie op Abrahams se besluit gesê toe Shaik, wat tans op mediese parool is, op 7 April 2005 skuldig bevind is op aanklagte van korrupsie en bedrog wat met die wapenooreenkoms verband hou, het regter Squires se uitspraak dit duidelik gestel dat Zuma ook vervolg moet word en dat die bewyse hiervoor “oortuigend en oorweldigend is”.

Mediaberigte oor die naweek het aangevoer dat Shaik, Zuma se voormalige finansiële raadgewer, teen Zuma sal getuig wanneer die saak in die hof begin. Shaik het Maandag weereens volgehou dat die geld wat hy aan die voormalige president gegee het “lenings” en nie “omkoopgeld” was soos die hof bevind het nie.

Shaik is skuldig bevind vir sy aandeel in die saak, maar kort nadat hy sy vonnis begin uitdien het op mediese parool vrygelaat. Hy beweer hy het sedert sy vrylating nog nie weer vir Zuma gesien nie.

Hy het wel bevestig dat die Valke hom genader het. Shaik het in ʼn onderhoud op Talk Radio 702 gesê hy sal slegs in die saak teen Zuma getuig indien hy gedagvaar word om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Velloen ·

Is dit nie tyd dat Schabir Shaik se sogenaamde siekte weer ondersoek moet word deur n onafhanklike dokter nie
Dis tyd dat hy sy vonnis uitdien

SjN ·

Dagvaar sommer ook die mediese ondersoeker/beampte/dokter wat hom terminaal siek gediagnoseer het en aanbeveel het dat hy op mediese parool moet gaan. Volgens mediese term moet sy lewensverwagting minder as 12 maande wees. Die spel gholf is n wonderlike kuur en moet gepatenteer word vir die siekte. Hy moet terug tronk toe en dalk nog saam met comrade Z n sel deel. Hulle het mos so baie in gemeen gehad. Die wiel draai stadig maar verseker.

Lerato ·

Stem volmondig saam. As die mediese- en tandheelkundige raad nie hierdie dokters dagvaar nie, mag ons asb weet wie hulle is.
Het hulle onder druk vals sertifikate uitgereik?

Morne ·

Of dalk moet Jacob nou al gaan vir n dokters ondersoek voor hy hof toe gaan….net om seker te maak hy is ook nie skielik terminaal siek wanneer hy skuldig bevind word nie.

Vermeendes ·

Het hy nie sy parool verbreek nie, hy is vrygelaat om by die huis te gaan sterf maar na jare speel hy gholf en rits die wereld vol rond.
Sy soestand het verbeter en hy is mos nou weer gesond genoeg om verder sy termyn te gaan uitdien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.