Zuma sal belasting moet betaal op Nkandla-voordele

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

President Jacob Zuma sal nou deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aanspreeklik gehou moet word vir van die voordele wat hy ontvang het weens die opgradering aan sy Nkandla-woning. Dít is die mening van die sakeregtewaghond, AfriSake, nadat die konstitusionele hof Donderdag onder andere beslis het dat Zuma die geld moet terugbetaal wat nie met sekuriteitsopgraderings by Nkandla verband hou nie.

Volgens AfriSake bepaal die SAID se regulasies (PAYE-GEN-01-G02) duidelik dat werknemers belas moet word op byvoordele wat hulle van werkgewers kry:

• ’n Byvoordeel is belasbaar indien enige bate, insluitend goedere, kommoditeite, sekuriteite of eiendom van enige aard (buiten geld), deur die werknemer van die werkgewer, enige verwante instansie of van enige persoon per ooreenkoms met die werkgewer, vir geen betaling nie of vir betaling onder die markwaarde van die bate verkry is.
• Die waarde wat op die bate geplaas word, is die markwaarde op die tydstip wat die werknemer die bate verkry het.
• Vanaf 1 Maart 2014 is ’n byvoordeel belasbaar indien ’n werknemer ’n bate van die werkgewer bekom teen minder as die markwaarde daarvan.
• Vrystellings van hierdie belasting is vir individue wat minder as R250 000 per jaar verdien en ’n bate met ’n markwaarde van onder R450 000 bekom.

“Na aanleiding van die uitspraak teen president Zuma sal hy nou die voorbeeld moet stel en die belasting moet betaal op die byvoordele wat hy ontvang het,” het Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake, gesê. Dié bedrag kan glo etlike miljoene beloop. “AfriSake is van plan om die SAID te versoek om ’n ondersoek na die aangeleentheid te gelas.”

Lees alle vorige berigte oor Nkandla op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann Marx ·

Hoe betaal mens “etlike miljoene” terug met ‘n salaris van R2,7 miljoen per jaar?

Koos ·

Oor die April Fool is ek nie heeltemal seker nie? Ek weet dit is al in die parlement ook geopper. Kan ‘n belasting kenner dalk lig werp?

Sune van Heerden ·

Dagsê lesers

Maroela Media het wel ‘n paar Aprilgekdag-berigte gelaai, maar ons kan bevestig dat hierdie nie ‘n Aprilgek is nie. Hierdie artikel is gebaseer op ‘n ware persverklaring wat deur AfriSake uitgereik is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Josua Keys ·

Jammer om te sê maar die hof het net bevestig was die publiek reeds geweet het, ons wil weet hoe Jacob Zuma dit reggekry het om die geld in die eerste plek te bekom en wie sit agter alles, die hofsaak is maar net weereens ‘n politiese taktiek van die ANC om die Gupta debakel te smoor en om die aandag daarvan weg te lok. Ons as Suid Afrikaanse burgers wil weet wie agter al die bedrog sit Nkandla is maar ‘n druppel in die emmer, wat van die res van die aantuigings teen Zuma en sekere lede van die ANC ons soek daarop uitspraak in die hof Nkandla was net ‘n bysaak.

HEVW ·

Ek stem. Daar is beslis nog baie deeglike ondersoeke nodig om hierdie addernes oop te krap en reg te laat geskiet. Nie net z nie maar een kader na die ander sal onder die vergrootglas moet kom. En natuurlik ook die indier – guptas wat nog steeds soos n adder hier in ons geledere skuil.

Frederik ·

Hierdie een is nie ‘n April 1 grappie nie. Ivan Pillay het reeds aan Nammawan genoem dat hy belasting sal moet betaal op sy byvoordele en dit is waarom Pillay kort daarna in die pad gesteek is. Die rede was egter, volgens die ANC, dat hy ‘n onwettige koverte eenheid op die been help bring het. Die bewering word nou deur die sg Valke ondersoek.

M A ·

Ek werk vir die staat en om selfs net n pakkie papierkrammetjies te koop vereis n 2 cm dik pak papierwerk en goedkeuring deur ten minste 4 mense. Tenders is n nagmerrie. Hoekom is die diefstal eers ontdek nadat Nkandla klaar gebou is???

GES ·

MA, sekere senior amptenare gebruik kort paaie om dinge gedoen te kry. Gevolglik is daar feiltlik geen kontrole nie. ‘n Tipiese voorbeeld was die debakel toe die Guptas Waterklooflughawe vir die troue by Sun City gebruik het. Selfs die blouligbrigade het saamgewerk. Nambawan hoef net die woord te spreek en dinge gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.