Zuma sal dan nuwe SAUK-raad aanstel

Foto: Argieffoto

Foto: Argieffoto

Pres. Jacob Zuma sal slegs ʼn nuwe raad vir die SAUK aanstel wanneer die parlementêre ad hoc-komitee se ondersoek na die openbare uitsaaier afgehandel is.

Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, het gesê die president sal wag totdat die ondersoek afgehandel is, sodat hy die aanstelling van ʼn nuwe raad kan doen in ooreenstemming met die aanbevelings van die Nasionale Vergadering.

Zuma se aankondiging kom enkele dae nadat prof. Mbulaheni Maguvhe, voorsitter en enigste oorblywende lid van die SAUK-raad, bedank het. Zuma het Maguvhe se bedanking Maandag ontvang.

Vuyo Mhlakaza en dr. Aaron Tshidzumba het in November bedank, terwyl Leah Thabisile Khumalo, die SAUK-raad se adjunkvoorsitter, einde Oktober haar bedanking ingehandig het. Krish Naidoo en Vusi Mavusa het op 5 Oktober in die parlement bedank, waar hulle voor die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie verskyn het.

Maguvhe het egter geweier om te bedank. Hy het ook ʼn aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien in ʼn poging om ʼn interdik te bekom om die ad hoc-komitee, wat saamgestel is om die beleërde openbare uitsaaier te ondersoek, in sy spore te probeer stuit. Die hof het egter die saak van die hand gewys.

Maguvhe het tydens die begin van die komitee se ondersoek uitgestap. Hy het daarna glad nie weer opgedaag nie en die komitee het besluit om hom te dagvaar om voor hulle te verskyn.

Hy het tydens sy getuienis volgehou hy glo Hlaudi Motsoeneng doen “uitmuntende werk” by die uitsaaier. LP’s was geskok om te hoor hoe Maguvhe Motsoeneng se aanstelling verdedig, selfs nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof vroeër bevind het Motsoeneng mag geen posisie by die uitsaaier beklee nie.

LP’s het Maguvhe in ʼn stadium gevra om homself ʼn punt uit tien te gee vir die manier waarop hy die raad bestuur. Hy het homself agt gegee. LP’s was ook glad nie beïndruk met Maguvhe se getuienis en die feit dat hy nie eenvoudige vrae kon beantwoord soos wie die SAUK se aandeelhouers is of wie die openbare uitsaaier finansier nie.

Die ad hoc-komitee sit volgende jaar sy werk voort.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

stephanus jesaja Heunis ·

En sal seker weer n klomp kzn kaders aanstel

Johann ·

Hehehhehe. Oom Zumpi gaan nou eers in sy klein boekie moet blaai om te sie watter Zumaikies is nog beskikbaar…

Jaco ·

Is dit nou van “bad to worst” ? Of is dit nou vir Wolf skaapwagter maak?

Anoniem ·

Zuma is koning midas in trurat. Alles waaraan hy raak verander van goud na ..

John ·

… maar hy sal eers sy dagboekie moet gaan haal daar waar hy dit aspris vergeet het by sy geliefde teedrinkplekkie in Saxonworld… Onthou tee gee nuwe visie, inspirasie en stukrag …

Oh nooooo ·

Solank ZUMA iemand aanstel, gaan dit niks beters as Hlaudi en Kie wees nie, onthou Zuma het goeie publisiteit nodig, hy gebruik sy pelle om dit deur te voer, al speel die plek bankrot later, hy sal sorg dat sy beuel geblaas word en sy beeld opgehemel en versier word, nes die OB wat hy nou aangestel het wat hom op alle moontlike maniere verdedig. Zuma sit nie verniet waar hy sit nie … en dis NIE omdat hy bekwaam is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.