Zuma sal reageer op Nkandla-verslag

Adv. Thuli Mandonsela op 19 Maart 2014 toe die Nkandla-verslag vrygestel is.

Adv. Thuli Mandonsela op 19 Maart 2014 toe die Nkandla-verslag vrygestel is.

President Jacob Zuma sal Woensdag reageer op die Openbare Beskermer se verslag oor opgraderings ter waarde van R246 miljoen aan sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal.

“Die president sal reageer,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, aan Sapa gesê. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het Zuma 14 dae lank gegun om te reageer op die verslag wat op 19 Maart vrygestel is.

Volgens die verslag het Zuma onregmatig voordeel getrek uit opgraderings aan sy woning en Madonsela het aanbeveel dat Zuma ʼn gedeelte van die bedrag moet terugbetaal.

Zuma se skriftelike reaksie sal aan Max Sisulu, speaker van die Nasionale Vergadering, gestuur word.

Zuma het verlede Sondag, tydens ʼn verkiesingsveldtog in Gugulethu, Kaapstad, gesê hy is nie oor die opgraderings, wat ʼn swembad, veekraal, hoenderhok en amfiteater insluit, ingelig nie. “Hulle het dit gedoen sonder om vir my daarvan te sê,” het Zuma gesê. “Waarom moet ek vir iets betaal waarvoor ek nie gevra het nie?” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.