‘Zuma sal verhoor word’

hof-hamer

Argieffoto

Die DA het Vrydag gesê die party glo dat enige verdere appèlprosesse deur pres. Jacob Zuma in die sogenaamde spioenasiebande-sage geen kans op sukses het nie en dat die president uiteindelik tereg sal staan op aanklagte van rampokkery en korrupsie.

DA-LP James Selfe het aan verslaggewers in Pretoria gesê hy is oortuig dat Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die hoogste hof van appèl sal nader in ʼn tweede poging om die hofuitspraak te appelleer. “Na aanleiding van hierdie eenparige en duidelike uitspraak, twyfel ek of die appèlhof tot ʼn ander gevolgtrekking sal kom, wat dan die weg sal baan vir die verhoor om te begin. Ons glo hierdie saak sal in ʼn verhoorhof voorkom voordat sy [Zuma se] termyn in sy amp tot ʼn einde kom,” het Selfe gesê.

Regter Aubrey Ledwaba het Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria uitspraak gelewer oor Zuma se appèl teen ʼn vorige hofbeslissing dat die besluit om 783 korrupsie-aanklagte teen hom oor die sogenaamde spioenasiebande te laat vaar, irrasioneel was.

Ledwaba het gesê ʼn volbank regters het na die aansoek om verlof tot appèl gekyk en bevind verlof kan slegs toegestaan word as daar ʼn redelike kans is dat die appèl suksesvol sal wees of ander wesenlike redes is. “Na ons mening is daar geen werklike wettige kwessies in die saak geopper nie,” het Ledwaba gesê.

“Die aansoekers het dele van die uitspraak waninterpreteer of slegs selektief na sinne in die uitspraak gekyk. Die feit dat die saak van openbare belang is, is nie genoegsame rede om verlof tot appèl toe te staan nie.”

Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, het in 2009 besluit om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie. Die DA het ná hierdie uitspraak ʼn jare lange hofgeding van stapel gestuur om die besluit teen te staan en die Noord-Gautengse hooggeregshof het uiteindelik op 29 April vanjaar die besluit om die aanklagte teen Zuma te laat vaar ter syde gestel.

Dr. Llewelyn Curlewis, ʼn regskenner, het vroeër aan Maroela Media gesê indien Zuma hom nou wel tot die appèlhof wend en die appèlhof die regstreekse petisie aanvaar, gaan die appèlprosedure voort. “Indien die petisie van die hand gewys word, is dit die einde van die pad. Dit beteken dan die besluit om Zuma nie te vervolg nie, word ter syde gestel en daar kan voortgegaan word met die klagtes teen hom.” Volgens Curlewis is dit onwaarskynlik dat die saak in die konstitusionele hof sal draai, aangesien dit bloot strafregtelike klagtes is, terwyl die Nkandla-saak byvoorbeeld in nasionale belang was en die Grondwet uitsluitsel moes gee.

Hy het voorts gesê indien die klagtes heringestel word, sal dit die eerste keer in die land se geskiedenis wees dat ʼn sittende president van korrupsie aangekla word. “Dit sal moontlik die eerste keer in die wêreld wees. Daar is geen riglyne van die verlede om aan te dui wat nou sal gebeur nie.”

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, het beklemtoon dat dit steeds van adv. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, sal afhang om te besluit of Zuma vervolg moet word of nie. Hy meen egter dit sal baie moeilik wees om te regverdig waarom Zuma nie vervolg moet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

HEVW ·

Ons hou maar sterk duim vas dat die verhoor sal plaasvind want met blatante korruptheid kom n mens in hierdie SA ver.

Rynhardt ·

Zuma sal nie n tronksel sien nie.Hy sal liewer met n “bang” uitgaan as wat n tronksel hom gaan sien.Dieselfde geld vir sy vriend, Malema.

Johan ·

Ek stem nogal saam met jou. Die enigste ding wat my nou baie pla is, ek dink dat Zuma nou baie gevaarlike gaan raak veral teenoor die wat hom nie goed gesind is nie ( veral dalk wittes wat iets besit) Ons moet onthou dat hy ongelukkig nog die he in sy hand het!!!!!.

Joann ·

Ag vertel dit vir die man in die maan. Daar sal niks van kom nie.

Asjas ·

Hy wou mos dinge agterstevoor doen!! Volgens SA geskiedenis (Nelson Mandela) moet jy mos EERS tronk toe gaan dan is jy gekwalifiseer genoeg om president te word?

Jan maak n plan ·

Die perde sal ers horings kry voordat Zuma n dag in die hof kry verseker.

christine ·

Die ou gaan nog vlug na sy pelle toe reguit wes,met daai straler hoop maar net hy stuur die stomme loots terug maar die jet sal ons nie weer sien nie

Etienne ·

Ek, is nie ‘n regskenner nie, maar bly in gebreke om te verstaan hoe Abrahams ‘n vol bank regters kan veto ?

Gerd Lourens ·

Sluit hom saam met oscar toe…

Dan kan hulle mekaar vertel hoe onskuldig hulle is…

lola ·

mag die regter wat die saak /sake teen zuma gaan verhoor n ekstreem christen of n uiterste rassis wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.