Zuma se bankrekeninge gedeeltelik bevries

Jacob Zuma (Foto: Phill Magakoe/AFP)

FNB het verskeie van oudpres. Jacob Zuma se rekeninge by dié bank gedeeltelik bevries.

FNB het Woensdag aan AFP gesê die hooggeregshof in Pietermaritzburg het hom opdrag gegee om alle uitgaande betalings te blokkeer. Die oudpresident se rekeninge by FNB is egter nie heeltemal gesluit nie aangesien inkomende betalings nie ingevolge die hofbevel beïnvloed word nie.

Die hofbevel is einde Februarie uitgereik nadat die likwidateurs van die omstrede VBS Mutual Bank die hooggeregshof genader het in ʼn poging om skuld van Zuma te verhaal.

“Hierdie opdrag van die hof spruit voort uit die proses wat tans deur die VBS Bank-likwidateurs bestuur word, en FNB was wetlik verplig om daaraan te voldoen. Oudpres. Zuma se toevlug lê nou by die howe en VBS-likwidateurs,” het die bank vandag verduidelik.

Zuma se nuwe party, uMkhonto we Sizwe (MK), het woedend gereageer en gesê die maatreël is polities gemotiveerd.

“Dit is duidelik dat die ANC agter dit alles sit,” het Nhlamulo Ndhlela, MK-woordvoerder, aan AFP gesê.

Nkandla (Foto: Emmanuel Croset / AFP)

Volgens Ndhlela probeer die regerende party vir Zuma verneder.

Die dispuut hou verband met die destydse Nkandla-debakel.

Die hooggeregshof het in 2016 bevind dat Zuma destyds ongrondwetlik opgetree het toe hy staatsgeld gebruik het om sy private woning in Nkandla op te knap. Die oudpresident het egter volgehou dat die R246 miljoen in sekuriteitsopgraderings aan sy woning noodsaaklik vir sy veiligheid was.

Zuma is egter later beveel om ʼn deel van die bedrag terug te betaal en het ʼn lening van R7,8 miljoen by VBS aangegaan.

Die bank is later onder kuratorskap geplaas en sy likwidateurs het hof toe gegaan om Zuma te dwing om die uitstaande deel van die lening terug te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan Jacobs ·

Nou dat hy die anc teenstaan gaan hulle dit warm maak vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.