Zuma se bedanking amptelik, nuwe president dán verkies

Die Nasionale Vergadering

Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het Donderdag bevestig dat haar kantoor pres. Jacob Zuma se bedankingsbrief ontvang het.

Zuma het Woensdagaand tydens ʼn regstreekse uitsending vanuit die Uniegebou bedank, maar moes die speaker nog amptelik skriftelik in kennis stel.

Mbete se kantoor het in ʼn verklaring gesê die president se brief sal amptelik in die joernaal van die parlement se aankondigings-, tertafelleggings- en komiteeverslae vir die aandag van die LP’s gepubliseer word. Sy bedanking is onmiddellik van krag.

Die verklaring het ook gemeld dat die speaker deur hoofregter Mogoeng Mogoeng in kennis gestel is dat hy sal kan waarneem wanneer die nasionale vergadering Donderdagmiddag ʼn nuwe president verkies.

“Dit het daartoe gelei dat die verkiesing van ʼn president wat oorspronklik vir 16 Februarie geskeduleer was na 14:00 Donderdagmiddag geskuif moes word. Dit verander dus wesenlik die sitting van die nasionale vergadering van die oorweging van ʼn mosie van wantroue na die verkiesing van ʼn president.”

Die speaker het Zuma ook bedank vir sy amper nege jaar diens aan die mense van Suid-Afrika en vir hom ʼn goeie toekoms toegewens.

Zuma is vroeër vandeesweek deur die ANC herroep, maar het aanvanklik geweier om te bedank. Hy het egter bedank nadat die ANC aangekondig het hy sal ʼn mosie van wantroue in Zuma ondersteun.

Cyril Ramaphosa is waarnemende president nadat Zuma bedank het en sal na verwagting vanmiddag amptelik as die nuwe staatshoof ingehuldig word.

Ramaphosa sal na verwagting Vrydagaand die staatsrede lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andréas ·

Sal dit te veel gevra wees aan Madam Speaker om eerder diè landsburgers te loof vir hul bydraes die afgelope 9-jaar aan diè voormalige president en sy kaders?

SjN ·

Die bedankingsbrief is seker namens hom opgestel en voltooi, hy het slegs geteken.

cor ·

Seker met een woord per A4 bladsy soos al sy toesprake geskryf was en die laaste blad met sy handtekening.

Hannelie ·

SjN ek glo ook sy bedankingsbrief is opgetel. Een-twee-drie……blok myself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.