Zuma sê binnekort oor Nkandla

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

President Jacob Zuma het onderneem om binne 30 dae ‘n “omvattende en finale verslag” oor Nkandla aan die speaker te oorhandig.

Zuma het in ‘n brief gedateer 4 Junie aan Baleka Mbete, speaker van die parlement, gesê hy is nou in ‘n posisie om dit te doen aangesien hy die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se voorlopige verslag oor die opgraderings aan sy private woning in Nkandla onder oë gehad het.

“Ek is in nou in besit van die voorlopige verslag wat versoek is van die hoof van die spesiale ondersoekeenheid. Hoewel die verslag steeds voorlopig is, het dit my met die insig voorsien wat ek benodig het om oorweging te gee aan die saak, met gelyke inagneming van die ander verslae waarna ek verwys in my vorige korrespondensie,” het Zuma geskryf.

“Gevolglik is ek van voorneme om jou mevrou die speaker binne die volgende 30 dae van ‘n omvattende en finale verslag te voorsien.” Die aankondiging is in die parlement se lys van aankondigings, tertafelleggings en komiteeverslae gepubliseer.

Thuli Madonsela, openbare beskermer, het in Maart vanjaar haar Nkandla-verslag bekend gemaak. Sy het bevind dat Zuma onbehoorlik by die opgraderings gebaat het. Madonsela het Zuma 14 dae gegee om te reageer. Zuma het by die spertyd gehou maar wou nie breedvoerig daarop kommentaar lewer nie.

Zuma het op 1 April ‘n brief aan die vorige speaker gesê hy sal wag vir die uitkoms van die SOE se ondersoek aangesien hy dié bevindinge saam met dié van Madonsela wil oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.