Zuma se dokters moet sê wat hom makeer – hof

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die verhoor in die korrupsiesaak teen oudpres. Jacob Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales is Dinsdag wéér uitgestel. Dié keer weens Zuma se hospitaalopname.

Die verhoor sal nou op 9 en 10 September aangehoor word, hoewel Zuma se dokters ʼn mediese verslag voor volgende Vrydag (20 Augustus) moet indien.

Regter Piet Koen het ook die staat se versoek toegestaan dat die staat ʼn mediese praktisyn van sy keuse mag aanstel om Zuma te ondersoek en indien nodig bewyse te lewer oor sy geskiktheid om in die hof te verskyn en verhoor te word.

Zuma word steeds in ʼn hospitaal behandel nadat hy Vrydagoggend opgeneem is. Daar is nog geen duidelikheid rakende Zuma se gesondheidstoestand nie.

Adv. Dali Mpofu het vanoggend gesê die staat én die verdediging is in dié stadium nog in die duister oor Zuma se toestand aangesien ʼn pasiënt se mediese inligting vertroulik is.

Volgens Koen blyk dit egter dat die dokters reeds duidelikheid het oor Zuma se toestand en dat die verslag teen volgende week afgehandel kan word. Mpofu het op sy beurt gesê hy neem aan die dokters doen nog toetse en is in die proses om sy kliënt se toestand te bepaal.

Maroela Media het vroeër berig die saak is vanoggend virtueel aangehoor weens die oudpresident se hospitaalopname. Zuma was veronderstel om self in die hooggeregshof in Pietermaritzburg te verskyn nadat die hof sy aansoek om self in die hof vir sy korrupsieverhoor te wees toegestaan het.

Zuma wil versoek dat hoofaanklaer adv. Billy Downer hom aan die saak onttrek. Die oudpresident beskuldig die advokaat onder meer daarvan dat hy inligting aan die media laat uitlek het.

Zuma word deur 16 klagte in die gesig gestaar vir die 1999-aankoop van onder meer vegvliegtuie, patrolliebote en weermagtoerusting van vyf Europese firmas terwyl hy Suid-Afrika se adjunkpresident was.

Zuma dien tans 15 maande tronkstraf uit weens die minagting van ʼn hofbevel om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Bang en vertragingsiekte. ek hoop sy kierankies braai

Dup

Dit is alles deel van n groter ANC plan.Die kaders sorg vir mekaar.

Malan

Daar is iets drasties verkeerd met ons regstelsel indien dit moontlik is vir enigiemand om soveel keer uitstel te kry om ‘n saak teen jou te vertraag.

JohanR

Die hele land weet wat hy makeer! Maar die hof gaan nie weg nie. Oor ‘n jaar, oor tien sal die hof nog vir jou wag.

miavos

Is ons seker daarvan dat Zuma die enigste een is wat onder kruisverhoor moet kom? Is hy nie juis siek van spanning omdat hy alleen die blaam moet vat nie?