Zuma sê glo binnekort oor herroeping

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Jacob Zuma sal na verwagting Woensdag reageer op die ANC se besluit om hom te herroep.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, aan joernaliste gesê dat Zuma glo “more” [Woensdag] sal reageer op die ANC se besluit. Hy het egter volgehou die ANC het nie vir hom ʼn spertyd gegee oor wanneer hy moet reageer nie.

Volgens Magashule is die ANC se besluit om Zuma te herroep egter “finaal en onomkeerbaar”.

Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, het Dinsdag aan joernaliste in die Oos-Kaap gesê dat die ANC vir Zuma ʼn ultimatum gegee het om te bedank of ʼn mosie van wantroue in die gesig te staar. Hy het gesê die ANC het hom toegelaat om sy eie besluit te neem en self te bedank om sy voordele te behou, maar toe hy geweier het, het die ANC die politieke besluit geneem om hom te herroep.

Hy het bygevoeg as Zuma aanhou om opdragte te ignoreer sal die ANC geen ander keuse hê as om ʼn mosie van wantroue teen hom toe te laat nie.

“As ʼn gedissiplineerde kader van die ANC word jy die kans gegee om op jou eie te bedank, maar as jy dissipline kortkom sal jy dit teenstaan. Indien jy weerstand bied, sal jy uitgegooi word deur die mosie van wantroue omdat jy die organisasie nie respekteer nie en dit nie gehoorsaam nie; daarom gaan ons toelaat dat jy deur die aasvoëls vermorsel word.”

Intussen het Malusi Gigaba, minister van finansies, tydens ʼn onderhoud met CNN gesê pres. Zuma sal teen 10:00 Woensdag terugvoer gee – volgens hom is dit die spertyd wat die ANC vir hom gegee het. “Ons verwag van hom om die regte ding te doen soos Mbeki gedoen het in 2008 toe die ANC hom gevra het. As dit nie gebeur nie, het die NUK meganismes in plek om dit te hanteer.”

Die ANC se parlementere koukus het ʼn vergadering vir Woensdag geskeduleer om op volgende stappe te besluit. Volgens Gigaba sal dit ʼn uur ná Zuma se aankondiging kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genieve ·

As hy nie bedank nie gaan daar toeglaat word dat die aasvoels hom vermorsel net tot 10uur vandag

Alida ·

As hy enige integriteit het sal hy die regte ding doen maar ek twyfel. Die man het geen skaamte nie. Hy wil 3 – 6 maande uitstel hê? Om wat te doen? Om meer skade aan te rig en onmin te saai. Verwyder hom so gou as moontlik en ontneem hom van al sy magte. As ‘n mamba jou pik het jy geen kans nie !!!

Johann Marx ·

Gelukkig is dit nou Agt en Sestien Honderd Vier duisend Twee miljoen Ses en Tagtig minute voor 10, so hy het nog baaaaiie tyd!!

christa ·

kan nie glo hy hou almal so aan lyntjie nie. Ek dog die finale datum was Sondag. Hy moes lankal uit gegooi gewees het soos Mogabe. Lyk of almal vir hom bang is

Johannes ·

Almal is bang vir hom – hy was MK se hoof van intelligensie… hy weet van al die vuil wasgoed van die ANC kaders… die martel en moord kampe… die oorlogsmisdade wat hulle in die 70’s en 80’s gepleeg het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.