Zuma sê oor ondersoek na staatskaping

President Jacob Zuma in die Nasionale Vergadering (Foto: Elmond Jiyane)

Pres. Jacob Zuma het Donderdag tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering gesê hy sal ʼn geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van ʼn staatskaping aanstel sodra die hof uitspraak gelewer het op sy aansoek om hersiening van die staatskapingsverslag.

Zuma het spesifiek verwys na gedeeltes in die staatskapingverslag wat verwys na die wanbesteding van openbare fondse wat moontlik onregmatig aan individue in die politieke sfeer gegaan het.

Die president se prokureurs het aan die hooggeregshof in Pretoria gesê Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se verslag moet hersien word omdat sy nie die outoriteit gehad het om die president te beveel om ’n geregtelike kommissie van ondersoek aan te stel nie.

Zuma het op ʼn vraag oor dié ondersoekkommissie van Deirdre Carter, Cope-LP, gesê hy het “in ʼn stadium” oorweeg om voort te gaan om ʼn kommissie van ondersoek in te stel, maar is deur sy prokureurs aangeraai om dit nié te doen nie “omdat die saak sub judice” is.

“As die kwessie [die staatskapingsverslag] in die hof is, kan ek nie ʼn kommissie van ondersoek instel na dieselfde ding [wat tans in die hof is nie]. My prokureurs sê die saak is sub judice. Wil jy hê ek moet die wet oortree? [Dit sal onwettig wees] om só ʼn proses aan die gang te sit terwyl die saak in die hof is,” het hy op dié vraag van Carter geantwoord.

Hy het gesê hy gaan só ’n kommissie “onmiddellik” ná die uitspraak aanstel. “Dit [die kommissie] is op pad, moenie bekommerd wees nie,” het hy gesê.

Zuma het ook gesê sy kritici is verkeerd deur te sê dat hy nie daarin geslaag het om op Madonsela se verslag, wat onder meer vertel het oor verdagte onderhandelings tussen openbare maatskappye en die Gupta-familie, te reageer nie.

“Ek het nooit gesit en niks doen nie. Ek het gesê die openbare beskermer se versoek dat die bewerings ondersoek moet word, was ongrondwetlik. Ek het aksie geneem. Ek kan nie die hof aanjaag nie, dit is nie my verantwoordelikheid nie.”

Hy het ook gesê só ’n kommissie sal die opposisiepartye ook onder die loep bring. “Daar is te veel praatjies van korrupsie. Selfs diegene wat die korrupste is, wys ook vinger na ander. Korrupsie het lank voor 1994 begin en diegene wat heeltyd korrupsie skree, gaan spyt wees,” het hy gesê.

Zuma het verder tydens die vraag-en-antwoord-sessie gesê ʼn kabinetsgroep van polisieministers werk aan ʼn plan om die weermag na misdaadgeteisterde gebiede in Suid-Afrika te ontplooi. Hy sê dié plan is om misdaad meer doelgerig en met meer trefkrag te beveg en teen te werk. Volgens hom is die regering ook in die proses om ʼn heeltydse nasionale polisiekommissaris aan te stel wat met die bekamping van misdaad sal help.

Zuma het verder ook gesê besprekings oor kernkrag vind steeds plaas ten spyte van Malusi Gigaba, die minister van finansies, wat tydens sy mediumtermynbegroting gesê het dat Suid-Afrika dit nie in dié stadium kan bekostig nie. Hy het ook ontken dat David Mahlobo, die nuwe minister van energie, en Gigaba koppe stamp oor dié kernkragbesprekings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Probleemkind ·

“wil jy hê ek moet die wet oortree?”… Sal nie die eerste keer wees nie?… Bietjie te laat om nou ‘n gewete te groei… Sê maar net.

Countryboy ·

Verstik ek nou aan my koppie koffie soos wat ek lag vir … “Wil jy he ek moet die wet oortree”… Ook net waneer dit hom pas is hy gepla oor die wet…

LHS ·

Hoekom sal hy enige iets of iemand aanstel in n saak waarin hyself die hoof skuldige is, maklik om n paar van sy mede bendelede aan te stel om niks fout te vind nie. Belaglik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.