Zuma ‘sentraal’ tot Guptas se kaping – Zondo-verslag

(Argieffoto)

Hoofregter Raymond Zondo het Vrydag die vierde gedeelte van die kommissie na staatskaping se verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. Dit fokus veral op die sukkelende Eskom met Zondo wat bevind het dat die omstrede Gupta-familie ʼn plan deurgevoer het om die kragvoorsiener met die hulp van oudpres. Jacob Zuma te kaap.

Die verslag lui onder meer dat nadat die Guptas ʼn plan bewimpel het om sekere hoofde by Eskom uit hul poste te skop, Zuma gehelp het om dié plan in werking te stel. Die oudpresident het onder meer vir Barbara Hogan uit die pos as minister van openbare ondernemings verwyder “om plek te maak vir ʼn minister van openbare ondernemings wat met die Guptas verbind was, naamlik mnr. [Malusi] Gigaba,” het Zondo bevind.

Luidens die verslag is die Guptas se uitgesoekte amptenare in strategiese posisies by Eskom geplaas sodat Eskom se bates daarna tot die Guptas se finansiële voordeel herlei kon word.

“Sentraal tot die Guptas se plan van staatskaping was pres. Zuma, wat die Guptas in ʼn baie vroeë stadium moes geïdentifiseer het as iemand wie se karakter van so ʼn aard is dat hulle hom teen die mense van Suid-Afrika, sy eie land en sy eie regering, kon gebruik om hul eie sakebelange te bevorder …” lui die lywige verslag wat in verskeie dele opgedeel en op die presidensie se webwerf bekend gemaak is.

Die kommissie bevind voorts dat Zuma die “deur geredelik vir die Guptas geopen het” om toegang tot staatsbeheerde ondernemings te kry en hulself te help aan die geld en bates van Suid-Afrikaners.

Die vierde gedeelte van die verslag is Vrydag aan die presidensie oorhandig. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die verslag lui ook dat “… daar onthou moet word dat die Gupta-sakebelange onlosmaaklik verwikkel was met die Zuma-familie se sakebelange”, soos verteenwoordig deur Duduzane Zuma se verhouding met die Guptas.

Zondo het ook bevind verskeie Eskom-hoofde, in besonder voormalige uitvoerende hoof Matshela Koko, voormalige finansiële hoof Anoj Singh en voormalige uitvoerende hoof Brian Molefe, het in hul eie belang opgetree om poste te verseker en finansiële belonings of voordele van die Guptas te ontvang.

Koko was “ʼn integrale deel van die Gupta-familie se strategie om Eskom te kaap”, lui die verslag en Zondo beveel onder meer aan dat Koko en Singh strafregtelik vervolg word vir hul rol in die verkoop van die Optimum-steenkoolmyn aan die Gupta-familie

Die res van die verslag handel onder meer oor die Vrystaatse asbesskandaal, Alexkor, asook die poging om die nasionale tesourie te kaap.

Oor laasgenoemde sê Zondo hy “sidder om te dink” wat sou gebeur as Zuma nie destyds gedwing is om Des van Rooyen – toe die minister van finansies – en sy raadgewers uit die nasionale tesourie te skop nie.

Zondo sê die Guptas en Zuma se mislukking om eindelik die tesourie te kaap, is grootliks te danke aan weerstand deur ministers soos Nhlanhla Nene en Pravin Gordhan – asook ander amptenare by die tesourie – en dat die land “dankbaar vir almal van hulle moet wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

Dit is dan mos niks minder as hoogverraad nie. Daai vent moet NOU toegesluit word, nie môre of volgende week nie, maar NOU!!!!! Hy gaan vlug as hy nie reeds in Rusland sit nie.

FranWilder ·

So wat gaan nou gebeur met die inligting wat jare gevat het om te bewys en wat almal alreeds geweet het?

Deon ·

Almal gaan dit lees en ‘n eiertjie daaroor te le he…. In die berig kla die DA klaar dat niks daaraan gedoen word nie, waarom trek hulle nie vinger en klim onder die lot in en kla aan nie, ek dink Solidariteit het reeds met iets soortgelyk begin, let wel, Solidariteit n unie!!! En die politieke partye sit almal en kyk net, dit bring n skrikwekkende vraag in my op, waarom kyk hulle net en wie almal is regtig hierby betrokke?

Henry ·

Die vraag is hoe lank gaan dit neem om die betrokke mense te vervolg. As die verhoor datum kom word dit uitgestel vir nog n paar jaar. So gaan die aan tot al die betrokkendes dood is.

domheks ·

rama moet nou sy agterwereld in rat kry en begin vervolg….

jzjz05 ·

Nou wat is die vlgende stap ?, Ek wag om te sien wat die regering nou gaan maak,Ons wag in spaning om dit te sien.

Johann ·

En dit het hoeveel jaar en hoeveel miljoen gekos om die obvious op papoer te kry? En wat nou? Dekades se uitstel en afstel van vervolging van die magsmal vergrypers?????

Di ·

ZUMA krimineel moet tronk toe gaan en die sleutel weggegooi word! Kan nie verstaan dat daar nog steeds dommes is wat hierdie krimineel ondersteun nie, miskien weet hulle nie wat korrupsie beteken nie.

Strandloper ·

Waar is die knaap na sy skielike gieterhol epsisode? In ICU? Insane Completely Undesirable?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.