Zuma-skildery: Wag vrygespreek

Die skildery nadat dit met swart verf en rooi kruise geskend is.

Die skildery nadat dit met swart verf en rooi kruise geskend is.

Die veiligheidswag wat daarvan aangekla is dat hy ʼn man aangerand het terwyl laasgenoemde ʼn skildery van president Jacob Zuma in die Goodman-galery geskend het, is vrygespreek, het The Citizen Maandag berig.

Paul Molesiwa is daarvan aangekla dat hy Louis Mabokela op 22 Mei 2012 by die galery aangerand het. Cliff Alexander, Molesiwa se regsverteenwoordiger, het gesê die staat kon nie bewys dat sy kliënt opgetree het met die doel om ernstig te beseer toe hy Mabokela in hegtenis geneem het nie.

“Die hof het bevind dat hy nie die grense van selfverdediging of artikel 49 van die Strafproseswet oorskry het nie,” het Alexander gesê.

Makobela is in Augustus verlede jaar skuldig bevind aan kwaadwillige beskadiging van eiendom nadat hy die “Spear”-skildery geskend het. Die Kaapse kunstenaar, Brett Murray, het die skildery, wat Zuma met sy ontblote privaatdele uitbeeld, geverf. Makobela is tot ses maande tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is.

Prof. Barend la Grange het ʼn skulderkenningsboete van R1 000 betaal nadat hy op dieselfde dag rooi kruise oor die skildery geverf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.