Zuma skuld SA R52.9m, sê DA

Grafika: Demokratiese Alliansie

Grafika: Demokratiese Alliansie

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het Vrydag gesê president Jacob Zuma skuld Suid-Afrikaners R52.9 miljoen vir nie-sekuriteitsverwante opgraderings aan sy privaat huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.

“Uit berekeninge wat gedoen is op grond van haar [die Openbare Beskermer Thuli Madonsela] verslag, ‘Secure in Comfort’, het die DA bepaal dat die president aanspreeklik gehou kan word vir minstens R52.9 miljoen,” het Maimane aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Maimane het gesê dit is ʼn redelike bedrag vir Zuma om terug te betaal.

Madonsela het in Maart 2014 in haar verslag gesê Zuma het onbehoorlik voordeel getrek uit nie-sekuriteitsverwante opgraderings aan sy Nkandla-woning. Die opgraderings het altesaam R246 miljoen beloop. Sy het voorgestel dat Zuma “ʼn redelike persentasie van die koste” moet terugbetaal.

Maimane het gesê dit is nie ʼn vraag “of” Zuma moet betaal nie, maar “hoeveel”.

“Wanneer ʼn nuwe president aangestel word, bly Nkandla die eiendom van mnr. Zuma vir sy persoonlike en privaat voordeel,” het hy verduidelik.

Daar bestaan glo geen twyfel nie dat Zuma bewus was van die opgraderings aan sy huis. Maimane het gesê hy het in April 2014 agt klagtes van korrupsie teen Zuma aanhangig gemaak by die Nkandla-polisiestasie “vir sy medepligtigheid in die wanbesteding van openbare fondse by Nkandla”. Dit is kragtens die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteit.

Maimane het Zuma gemaan om verantwoordelikheid te aanvaar en dadelik die geld terug te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Drieks ·

Anc trost. Anc president steel. Anc, jul president het die land laat sink en die Anc.

Dave ·

Daar moet ‘n rentekoers ook bepaal word tot en met afhandeling van die uitstaande skuld Die bedrag klink egter steeds te effentjies want selfs R200m se opgradering van bestaande sekuriteit behels wat?

CHRISTA ·

Dis belaglik!! 25% van wat hy spandeer het? Dis wat jy selfverryking noem!!! Geen wonder die ANC kan nie ESKOM aan die gang hou nie.

Karabo ·

Sal graag wil weet hoeveel geld hy aan die ontvanger verklaar het en hoeveel belasting hy op al sy voordele betaal? Seker ook ‘n ronde O.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.