‘Zuma speel vir tyd’

Ramaphosa en Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma gaan nog veel langer met Suid-Afrika wees as wat verwag word, bloot omdat hy tans sterk weerstand bied teen enige pogings om hom vroeër uit die kussings te lig.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, het gesê hy sal beslis nie nou al wil sê of dit ʼn uitgemaakte saak is dat Zuma wel Donderdag die 2018-staatsrede sal lewer nie.

“Vandag en môre sal bepalend wees vir wie die staatsrede gaan lewer. Dit is ondenkbaar dat Zuma dit sal doen, maar hy dring daarop aan, en ons weet Zuma het al van te vore talle ondenkbare dinge gedoen.

“Tog kan daar niks goeds kom indien Zuma wel hierdie jaar se staatsrede lewer nie en die kanse is goed dat dit in ʼn katastrofe sal ontaard wat sleg sal wees vir die beeld van die parlement, die regering, Suid-Afrika en sy mense,” het Venter gesê.

Die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) het Maandagmiddag ʼn spesiale vergadering belê nadat die top-ses van die ANC Sondagaand ʼn vergadering met Zuma by Mahlamba Ndlopfu, die presidensiële ampswoning in Bryntirion in Pretoria, gehad het.

Die top-ses, wat bestaan uit Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC; David Mabusa, adjunkpresident; Ace Magashule, sekretaris-generaal; Paul Mashatile, tesourier-generaal en Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, het Zuma sonder adj.pres. Cyril Ramaphosa, die ANC se president, in opdrag van die NWK gaan spreek.

“Die gesprek moes handel oor die vroeë uittrede van die president en die top-ses sou net die sogenaamde ‘modalities’ of onderdele van die uittrede met hom bespreek,” het Venter gesê.

Hoewel dit nog nie bevestig kon word nie, blyk dit dat Zuma bloot geweier het om te loop. Hy het boonop ʼn lys van eise vir sy vroeë uittrede gestel.

Van sy eise was ʼn waarborg dat sy regskostes betaal sal word, dat hy sekere pligte sal kan nakom soos om steeds staatshoof van die land by die volgende Brics-beraad in Julie te wees en die weermag te mag groet.

Venter reken die algemene gevoel is dat soos sake tans staan Februarie normaal sal verloop met Zuma wat die staatsrede op die agtste sal lewer en Malusi Gigaba, minister van finansies, wat sy begrotingsrede op 21 Februarie sal lewer.

“Tussen hierdie twee geleenthede, op 18 Februarie, sal die NUK bymekaarkom om ʼn besluit oor die president te neem.”

Hy meen Zuma is besig om terug te druk teen enige planne vir ʼn vroeër uittrede en speel daarom vir tyd. “ʼn Mens wonder altyd hoekom iemand vir tyd sal speel, veral as die uitkoms dieselfde sal wees, maar om tyd te koop is die strategie van iemand wat nie ʼn plan het nie en so word tyd self die plan, want wie weet wat kan gebeur as daar genoeg tyd is.”

Venter het ook bespiegel oor die moontlikheid van ʼn soort PW Botha-truuk: “ʼn Aankondiging dat Zuma ʼn toeval gehad het of ongeskik is en nie sy pligte vir die staatsrede kan nakom nie sal alle probleme onmiddellik oplos en die land verhoed om deur die trauma te gaan van nog ʼn Zuma-staatsrede.”

Hy reken egter dat die mosie van wantroue teen Zuma wat op 22 Februarie aangehoor word, nie nou realistiese politiek is nie. “Die ANC sal nooit toelaat dat die EFF so ʼn soort oorwinning behaal nie, daarvoor is daar net te veel van ʼn intense kompetisie tussen die twee politieke partye.”

Tog kan ʼn mens nie help om te wonder of dit sleg vir Ramaphosa sou wees indien Zuma langer bly voort ploeter as staatshoof van die land nie?

“Ja, die risiko vir Ramaphosa raak al hoër. Hy word wyd as ʼn politieke wonderseun beskou en dit raak al moeiliker indien ʼn ou ongeleerde man soos Zuma in sy pad bly staan en dit blyk hy kan niks aan hom doen nie.

“Daar is mense wat glo Ramaphosa is heel onkant betrap deur sy oorwinning op die ANC se leierskapkonferensie. Ek het dit ook self by die konferensie opgetel, hy was ongelooflik bly dat hy gewen het, amper soos of hy nie gedink het hy staan nie werklik ʼn kans nie. Die stemme wat die Vrystaatse hof gekanselleer het, het tot ʼn groot mate hiertoe bygedra.

“Daarom dink ek sy span sukkel tans om die mas op te kom en ʼn werklike merk te maak,” het Venter gesê.

Indien Zuma se teenstanders wel sou wil hê hy moet nie die staatsrede lewer nie, sal die NWK ʼn konsensus bereik voor ʼn dringende vergadering van die NUK belê word. Die NUK is die enigste gesagsliggaam binne die ANC wat iemand soos die president kan herroep. Dit sal alles voor Donderdagaand se staatsrede moet gebeur.

En terwyl Zuma dalk nog tot in die helfte van hierdie jaar Suid-Afrika se staatshoof kan wees, is die kanse egter goed dat Suid-Afrikaners ná hierdie week presies sal weet hoe die steun tussen Ramaphosa en Zuma binne die ANC verdeel is na aanleiding van wat hierdie week oor die president besluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

christa ·

net ‘n koreksie… Dis nie ‘n PW Botha truuk nie maar ‘n FW De Klerk skelm streek wat Botha uit gesit het. Botha het ‘n skoon record gehad.

Trevor Dell ·

Ja Zuma keer vir vir al wat hy kan en wil kwyt gestel word van al sy misdade. Nou het hy nog die he in die hand. Hy sal in ‘n staat van beskuldiging geplaas moet sodat hy geen voordele kan geniet nie. Hy moet aan gekla word en dan as hy dalk onskuldig is moet hy die bewyse in die hof voor lê. Dink hy kan nie. Hoekom moet die burgers betaal vir die hofsake en dan rek hy dit uit om altyd te appelleer.

neelsc ·

Wil nog sien of hy gly. Sien op News 24 hy het die Zulu koning 12h00 vandag gaan raad pleeg, so asof dit die koning van die RSA of die ANC is.

Jacques Venter ·

Hallo Christa
Ja De Klerk moes van Botha ontslae raak. Botha se ondeurdagte drie kamer parlement het die land in n onregeerbare toestand gelos.
Botha se nood toestande kon nie beheer behou nie.
So De Klerk het die regte ding gedoen.

Piet ·

Nee hy het beslis nie reg op getree nie Hy het gekonkel om aan bewind te kom en daarmee hele volk see to Kim’s weg gegooi. Hy het baie bloed aan sy hande. Hoeveel boere Kon nog gelewe het indien Hy nie hierdie verraad gepleeg het nie.

Robert Naude ·

Wat kan mens deesdae glo? Alles word bespiegel en gespekuleer. Nie eers die politieke ontleders weet wat gaan gebeur nie. Wat is die kanse vir feitlike beriggewing. ?
Ek glo nie dit is meer moontlik nie…..

Casper Labuschagne ·

Elke keer as daar ‘n aanslag op Zuma is, dan is die volgende frase merkbaar op Twitter, spesifiek onder die Zuma faksie van die ANC: “The whites will not win.” Vir die afgelope sewe mosies van wantroue teen Zuma, het die ANC parlementslede bankvas agter Zuma gestaan, hoekom sou ek verwag dat dit hierdie keer anders sal wees? Zuma en Magashule beklee uitvoerende poste in die regering en die ANC terwyl Ramaphosa se aanstelling as president van ‘n politieke party, die ANC slegs ‘n uiters beperkte uitvoerende gesag het binne die ANC. Die verskil is dat dit hierdie keer moeiliker is vir Zuma om ander te kan oortuig dat dit net nog ‘n aanslag van die wittes op hom is.

Stella ·

Donderdagaand, `n lekker whiskey met popcorn voor die tv vasgenael hahaha ek hou van die staatsredes dit is nie meer so vervelig soos vroeër jare nie. Deesdae meer opwindender as die Bokke se rugby

Nico ·

My afleiding is dat die top 6 nie so onskuldig is soos wat sommige van hulle wil voorgee nie en so ook op ander vlakke. Hulle weet hul doppie is ook geklink as Zuma gaan, want hoekom anders sukkel hulke so en met Mbeki was dit baie maklik. So het CR en ‘n paar van sy sogenaamde swaargewigte nie ook geraamtes in die kas nie en daarom nooit vir JZ op die vele wantroue mosies uitgestem nie en ook nie nou haastig is om hom uit te haal nie?

Arie ·

Mense, julle moet asseblief nie in euforia opgaan omdat Mnr Z n mosie van wantroue moet deurgaan nie.

HET ENIGEEN AL GEDINK WATTER KATASTROFE DIE LAND GAAN OORVAL AS DIE MOSIE VAN WANTROUE NIE SLAAG NIE.
DIT IS NIE VERGESOG NIE.
DIT IS N BESLISTE MOONTLIKHEID.

LAAT ALMAL WAT ORE HET OM TE HOOR, DIT HOOR EN VERSTAAN.

Jacques Venter ·

Piet nee
Laat ek jou n hipotetiese vraag vra.
Hoeveel boere sou teen die tyd vermoor gewees het sou Botha aan bewind gebly het?

Lolla ·

Jacque, ons het toe n effektiewe werkende weermag gehad, wat nie meer bestaan nie, en n magdom mense wat nie meer in ons land bly nie.

Chrisjan ·

Mag die zuma ”kamp” en Ramaphosa ”kamp” met hul ondersteuners regtig aanmekaar spring!

Gatvol ·

Theo Venter is 1 van die min mense wat weet waarvan hy praat. Kyknet verslag beaam meedte van sy stellings nou op DSTV Kanaal 144.

mossie ·

Ou de klerk is seker in sy noppies oor die stand van sake?
Hy en sy meeloper roelfie – dit is mos waarvoor hulle die land uitverkoop het en hoogverraad gepleeg het.

christa ·

Julle kan gerus die boek ” die lang general” van Alan D Elsdon gaan lees en baie meer duidelikheid kry oor FW de Klerk se streke. PW Botha het hom nie met skelm streke op gehou nie. Did hoekom Vorster en Hendrik van den Berg onmiddelik bedank het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.