Zuma-stigting ontstig oor Zondo se uitsprake

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Michele Spatari/ AP)

Die Jacob Gedleyihlekisa Mhlanganyelwa Zuma-stigting het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy neem met afkeur kennis van die uitsprake deur die voorsitter van die Staatskapingskommissie wat ten doel het om pres. Zuma en sy prokureurs te verneder.

“[Adjunkhoofregter Raymond Zondo] se aanvalle op pres. Zuma en sy regsverteenwoordigers tydens ʼn buitengewone perskonferensie was absoluut ongeregverdig en benadelend,” het die stigting gesê.

“Die voorsitter het nie die moed om só op te tree wanneer sekere mense hom openlik teengaan en weier om voor die kommissie te verskyn nie.”

Zondo het Maandag beslis dat die aansoek deur die kommissie se regspan, om Zuma te dagvaar, op 9 Oktober aangehoor sal word. Zondo het bepaal dat Zuma van 16 – 20 November 2020 voor die kommissie moet verskyn.

Zuma sou vandeesweek voor die kommissie getuig. Sy regspan het egter die kommissie laat weet dat hy nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie. Zondo het hierop reageer en gesê die kommissie onderhandel nie met getuies nie.

Die JG Zuma-stigting het in die verklaring sy teleurstelling uitgespreek oor Zondo se “obsessie” met Zuma. “Sy perskonferensie was onbedag en absoluut onbehoorlik vir ʼn persoon met sy senioriteit in die regbank.”

Volgens die stigting het Zondo versuim om te noem dat die datums van 9 Oktober 2020 en 16 – 20 November 2020 eers op 18 September 2020 aan Zuma se regspan gekommunikeer is. “Sonder dat hy uitgelok is, het die voorsitter die perskonferensie gereël en geïnsinueer dat pres. Zuma of sy prokureurs hom teëstaan terwyl hulle nog nie eers reageer het op die skrywe van 18 September 2020 nie. Dit is bejammerenswaardig, maar nie ʼn verrassing nie, dat hy besluit om die saak deur die media te hanteer. Ons respekteer die regbank, maar wil die voorsitter daaraan herinner dat hy self nie bo die wet verhewe is nie en dat hy konsekwent moet wees hoe hy getuies en geïmpliseerde persone hanteer.”

Die stigting is van mening dat Zondo moes gewag het vir Zuma se regsverteenwoordigers om te reageer op sy opdrag voor hy Maandag ʼn persverklaring gereël het. “Pres. Zuma het altyd aangedui dat, ondanks sy bedenkinge oor die wettigheid van die kommissie, respekteer hy dit en hy sal sy samewerking gee. Dit wil egter voorkom of die voorsitter vasbeslote is om hom te bevooroordeel en hom te verneder. Dit is vir almal duidelik dat die voorsitter reeds ʼn besluit geneem het dat hy pres. Zuma streng sal behandel sodat hy vir homself ʼn toekomstige loopbaan in die hoogste kantoor van die regbank kan verseker.”

Die stigting het bygevoeg Zondo het ook nog nie, soos wat hy vroeër aangedui het, met Zuma se dokter vergader nie.

“Ons versoek die voorsitter om nie toe te laat dat sy persoonlike kwessies met pres. Zuma sy oordeel sal beïnvloed nie. Ons versoek die voorsitter om nie vir die mediagalery te speel nie. Dit is onbehoorlik vir die regbank om die media te gebruik om die beeld van partye skade te berokken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
PieterP

Ô shêm… He is the victim in all of this

Johan

Waarvoor wil jy voorberei beantwoord net die vrae aan jou gestel .Hy wil seker antwoorde uitdink.

Willem

Jz probeer nog steeds speel vir tyd!Sluit die skelm toe en gooi sleutel weg!!!Regter Zondo is reg!

Evert Philippus

Die water word nnou warm vir zuma nou word onrelevante goed opgediep. Sy dag in die hof het nou aangebreek en Zondo moet sy “masker” afpluk.

Persheks Adri

Sien is glo!!! Hoe lank tyd wil hy nog hê? Dalk wil hy eers met sy sangoma gaan vergader… Oe ee ee hamba