Zuma: ‘Studentebetogings teken van lewendige demokrasie’

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma meen die studentebetogings wat universiteite landwyd lamlê en binnegevegte in die ANC is tekens van ʼn demokrasie.

Zuma het hoofde van Suid-Afrikaanse missies in die buiteland toegespreek tydens ʼn konferensie in Pretoria. Hy het gesê die teken van ʼn lewendige demokrasie in die land is dat Suid-Afrikaners daartoe neig om oor en oor te debatteer.

“Dit is demokrasie. Jy kan nie verkeerd gaan nie. Jy kan nie net sê dit is wat ek wil doen nie. Wanneer iemand vra wat is aan die gang in Suid-Afrika en waarom daar betoog word, sê vir hulle dit is demokrasie. Wanneer hulle vra hoekom dit lyk asof die regerende party baklei, dan sê jy dit is demokrasie. Ons het oop sienings. Ons praat.”

Volgens Zuma is die newe-effek van ʼn funksionele demokrasie dat prosesse langer neem. “Demokrasieë gaan deur moeilike tye, juis omdat hulle demokrasieë is. Slegs in ʼn outokratiese diktatorskap is daar geen probleme nie. Wanneer die heerser sê hy wil ʼn brug hier hê, is daar nie ʼn debat nie en die brug word gebou. Niemand sê daar is nie geld nie. Demokrasie is ʼn wonderlike stelsel, maar dit is noukeurig.”

Zuma sê dinge beweeg stadig in ʼn demokrasie aangesien daar debat is. “Mense het verskillende sienings voordat hulle ʼn ooreenkoms bereik. Dit is waarom die basiese beginsel geld dat die meerderheid seëvier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.