Zuma terug hof toe

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Leon Lestrade/African News Agency/ANA)

Die voormalige president Jacob Zuma sal na verwagting Vrydag vlugtig in die hof verskyn.

Zuma sal na verwagting uitstel versoek nadat die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shaun Abrahams, sy versoek, om tydelik sy vervolging op te skort, van die hand gewys het.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het Dinsdag aan African News Agency gesê Zuma se regspan het die versoek ingedien “terwyl hulle die kwessie oor regsverteenwoordiging en finansiële hulp probeer oplos”.

“Die NDOV het aan hulle geskryf en gesê hy kan nie die versoek goedkeur nie, en die saak sal voortgaan. Hy het gesê enige ander kwessies sal in die hof geopper word,” het Mfaku bygevoeg.

Hy het gesê dis waarskynlik, alhoewel hy nie oor Zuma se regstrategie wil spekuleer nie, dat “hulle [Vrydag] uitstel sal versoek” in die Durbanse hooggeregshof.

Hy het dit duidelik gemaak dat Zuma nie versoek het dat die vervolging permanent opgeskort moet word nie, en Mfaku het gesê dit kan slegs “voor ʼn hof en regter versoek word”.

Mfaku het bygevoeg alhoewel dit verwag is, het Zuma nie versoek dat die besluit om hom te vervolg, hersien moet word nie. “Ons het nie enige versoek vir hersiening ontvang nie.”

Zuma staan tereg op een aanklag van swendelary, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog. Die voormalige president word daarvan beskuldig dat hy altesaam R4 072 499.85 onregmatig bekom het uit 783 betalings wat Schabir Shaik gedoen het, ʼn sakeman wat as sy finansiële raadgewer opgetree het ten tyde van die beweerde transaksies.

Die geld was vermoedelik omkoopgeld van die Franse wapenvervaardiger Thales met betrekking tot die omstrede wapentransaksie in 1999.

Ten tyde van die betalings was Zuma aanvanklik die LUR van ekonomiese ontwikkeling in KwaZulu-Natal en daarna, in 1999, die adjunkpresident van Suid-Afrika.

Zuma hou vol hy is onskuldig.

Mokotedi Mpshe, voormalige hoof van openbare vervolging, het aanvanklik die aanklagte in 2009 teruggetrek, en dit het die weg gebaan vir Zuma om ʼn maand later die staatspresident te word.

Die amptelike opposisieparty, die Demokratiese Alliansie, het, sedert 2009, baklei om seker te maak die klagtes word weer ingestel.

Biskop Vuse Dube, stigter van die eThekwini Community Church International, het Maandag gesê verskeie kerke, wat deel is van die National Interfaith Churches of South Africa (NICSA), sal Zuma geestelik ondersteun, maar nie finansieel nie.

Ander groepe wat Zuma ondersteun sluit verteenwoordigers van die Commission for Religious Affairs (CRA), Black First Land First (BLF), Umkhonto we Sizwe Militêre Veterane (MKMVA) en die National Funeral Practitioners Association of South Africa in.

Dié groepe glo Zuma word “vervolg” omdat hy “teen ʼn Westelike kapitalistiese agenda werk” en dat hy ten gunste van armes is. Hulle hou vol die aanklagte is polities gemotiveer en dit maak dit dus onmoontlik dat hy regverdig verhoor sal word. Hulle sal na verwagting Vrydag saam met honderde ander ondersteuners by die hof opdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Han ·

Het gedink ons is ontslae van Zuma, maar sy spook wil nie wyk nie. Die man het geen skaamte nie! Kyk wie skaar hulle agter hom: dié wat verkeerd reg noem en reg verkeerd. Jesaja 5:20.

PJC ·

Wat Zuma probeer doen is om alles saam met hom te laat ondergaan.

Koos de Meyer. ·

Ja swaer, hulle is so slim soos die houtjie van die galg. Hoe lank speel hulle nie al vir tyd nie. Hy hoop seker die saak word van die rol geskrap.

humor ·

Hy het die land en selfs sy eie mense onberekenbaar skade aangedoen. Hy het self verklaar dat die anc vir hom belangriker is as die land en sy mense. Eintlik het hy homself net liefgehad. As gevolg van sy grenslose korrupsiedade sit miljoene van sy eie mens vasgevang in skrynende armoede sonder selfs behoorlike kos, behoorlike sanitasie water en krag. Kan hoegenaamd nie dink hoe regdengkende mense hom nog kan ondersteun nie.

Dafer ·

Gaan Mokotedi Mpshe gedagvaar word vir al die kostes wat hy veroorsaak het?

Kapenaar ·

En die tragiese ook, gister toevallig op RSG die Zuma debat geluister, hoe Carl Niehaus ons nasie uitverkoop!!

corne ·

En nog van ons 15% vat word gemors .Hy gaan nie wegkom nie hy het klaar daarmee weggekom pleks dat ons ophou geld mors en los die saak uitbons almal weet tog dit gaan 15jaar vat en miljoene kos en niks gaan gebeur nie tragies

Joshua ·

Feit: Soos hy die Guptas uit help, is Zuma se groot pel Shawn Abrahams tans besig om Zuma se horde kriminele aanklagtes af te water sodat hy vry kan loop -hou hierdie spasie dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.