
Oudpres. Jacob Zuma vra die hof om die lasbrief vir sy inhegtenisneming ter syde te laat stel. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)
Die departement van korrektiewe dienste het Donderdagoggend bevestig dat oudpres. Jacob Zuma se aansoek om tydelike vrylating uit die tronk om die begrafnis van sy broer by te woon, goedgekeur is. Zuma se jonger broer, Michael Zuma, is verlede week ná ʼn lang siekbed oorlede en word Donderdag in Nkandla begrawe word.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het aan Maroela Media bevestig die departement het Zuma se aansoek verwerk en goedgekeur.
“In ooreenstemming met artikel 44 (1) (a) van die Wet op Korrektiewe Dienste is deernisverlof aan Zuma toegestaan,” het Nxumalo gesê.
“ʼn Veroordeelde oortreder wat toestemming kry om ʼn korrektiewe sentrum te verlaat, bly ʼn gevonniste oortreder, selfs terwyl hy tydelik buite die tronk is.”
Die deernisverlof wat aan Zuma verleen is, geld slegs vir 22 Julie.
Zuma het hom op 7 Julie aan die owerhede oorgegee om sy tronkstraf van 15 maande te begin uitdien. Die Konstitusionele Hof het hom dié straf vroeër opgelê nadat hy aan minagting van die hof skuldig bevind is vir sy versuim om, ten spyte van ʼn hofbevel wat hom dwing om dit te doen, voor die kommissie na staatskaping te verskyn.
Cope, die politieke party, het Woensdag die departement van korrektiewe dienste gevra om versigtig oor sy besluit te besin omdat dit ’n groot risiko sal wees om Zuma vry te laat.
“Hoewel ons regtig meegevoel het met Zuma se aansoek om sy laaste respek aan sy broer te gaan betoon en hom ter ruste te lê, moet die departement die veiligheidsituasie in die land baie deeglik oorweeg,” het Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, gesê.
“Die moontlikheid kan ontstaan dat die sogenaamde Zuma-ondersteuners kan weier om hom terug te laat gaan tronk toe. Ons wonder dan of veiligheidsmagte opgewasse sal wees om hom terug te kry in die tronk sonder dat dit in ’n bloedbad ontaard.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
53 Kommentare
Net vir 22Julie? Ja en ek is die paashaas. Hy is n krimineel wat steeds 5 ster behandeling kry. Geregtigheid is n vloekwoord in hierdie land.
Word enige ander gevangene toegelaat om n begrafnis by te woon? NEE, mors van hulpbronne en belasting geld!
Toe hy aangemeld het, moes hy kwarentyn soos per normaal, oor covid.
Hy gaan nou met publiek / familie meng, beteken dit dat hy weer 14 dae moet kwarentyn as hy vanmiddag of vanaand terug rapporteer.
Ek Dink die dept het die aansoek goedgekeur om geweld te voorkom.
Dink dus bitter min dat Gevangenisse begrafnisse mag bywoon.
As hierdie gedoente vreedsaam uitspeel sal dit ‘n wonderwerk wees!
Hy gaan nie terug kom nie. Om n bloedbad te voorkom sal die regering hom liewer laat gaan! Hopelik sal die anti-zuma groepie dan n tantrum gooi. Wonder net hoeveel en wat nog als gebrand en verwoes gaan word voor hierdie hoofstuk afgesluit gaan word. Wonder ook rondom wie gaan die zuma-groepie spring die dag wanneer zuma die ewigheid ingaan…