“Zuma trek voordeel uit elektrisiteitkrisis” – Zille

Medupi-kragstasie Foto: Hitachi  Power Africa

Medupi-kragstasie Foto: Hitachi Power Africa

Helen Zille, leier van die DA, het Saterdag gesê die ANC trek voordeel uit die land se elektrisiteitkrisis.

“Jacob Zuma se ANC word bevoordeel terwyl Mpumalanga se ekonomie stilstaan, meer mense werkloos is, Suid-Afrika in ʼn noodtoestand verkeer weens elektrisiteitsprobleme en die elektrisiteitspryse jaarliks verhoog,” het Zille by die DA se verkiesingsveldtog in Nelspruit in Mpumalanga gesê.

Sy sê die verkope van ANC-aandele in Hitachi Power Africa is botsende belange. “Hitachi Power Africa is die maatskappy wat kontrakte van R38 miljard ontvang het om stoomketels by die Medupi- en Kusile-kragstasies in Mpumalanga op te rig. “Hierdie projekte is vertraag weens die talle stakings en brouwerk deur kontrakteurs, insluitend Hitachi,” het Zille gesê. “Ons sê al jare lank dit is botsende belange en korrup vir Zuma se ANC om geld te verdien uit regeringskontrakte.”

Chancellor House, die beleggingsarm van die regerende party wat voordeel getrek het uit regeringskontrakte, het Vrydag aangekondig hy het sy 25%-aandeel in Hitachi Power Africa verkoop. Die aandele is vir ʼn onbekende bedrag aan Hitachi Power Europe verkoop.

Zille beweer die ANC se aandeel in Hitachi was ʼn skandaal en Suid-Afrikaners behoort briesend te wees. “Die aankondiging het dit selfs duidelik gemaak dat die prys vertroulik is, so niemand kan bereken hoeveel geld die ANC vir hul verkiesing ontvang het nie. Dit laat Nkandla soos ʼn opwarmingsoefening lyk.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.