Zuma uitgejou by Durban-vlugtelingekamp

Pres. Jacob Zuma spreek die skare by die vlugtelingekamp in Chatsworth, KwaZulu-Natal toe (18 April 2015) Foto: MyANC_, Twitter

Pres. Jacob Zuma spreek die skare by die vlugtelingekamp in Chatsworth, KwaZulu-Natal toe (18 April 2015) Foto: MyANC_, Twitter

President Jacob Zuma het ʼn reis na Indonesië gekanselleer weens aanvalle op uitlanders in Suid-Afrika, het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Zuma sou Saterdagaand na Indonesië vertrek vir ʼn staatsbesoek en om die Afrika-Asië-beraad by te woon. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal die geleentheid namens Zuma bywoon.

Zuma het vroeër Saterdag ʼn vlugtelingekamp in Chatsworth, net suid van Durban, besoek. Die kamp is opgerig om uitlanders te huisves wat haweloos gelaat is weens xenofobiese geweld. David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, en verskeie leiers van die KwaZulu-Natalse provinsiale regering het Zuma vergesel.

Die uitlanders het net voor Zuma se aankoms oproerig geraak toe Sibongiseni Dhlomo, provinsiale LUR vir gesondheid, hulle versoek het om Zuma se naam te dreunsing. Die skare het egter minagtend “boe” geskree.

“Hoekom moet ons sy naam roep?” wou Maxwell Obune, ʼn Malawiër, weet. “Sy koning en sy seun wil hê ons moet huis toe gaan. Niks wat hy sê kan ons nou help nie. Ons wil net huis toe gaan.”

Die skare van ongeveer 2 000 mense het “Gaan huis toe” begin skree en het plakkate rondgeswaai met die woorde, “Ons wil na ons land toe gaan” en “Ons moet eerder huis toe gaan, dankie koning en Zuma se seun”.

Die skare het al hoe meer oproerig geraak en Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, moes ʼn leier in die groep uitlanders identifiseer en hom versoek om die skare te laat bedaar.

James Nxumalo, burgemeester van die Ethekwini-munisipaliteit, het eerste die skare toegespreek, maar die skare het op hom geskree om Engels te praat.

Die skare het aandagtig geluister toe Zuma uiteindelik met hulle gepraat het, maar hulle het nie ingestem met alles wat hy te sê gehad het nie.

“Ek het hierheen gekom om die situasie te ondersoek na dit wat met julle gebeur het,” het Zuma gesê. “My ministers het vir my gesê wat die situasie is. Ek wil julle verseker nie alle Suid-Afrikaners wil hê julle moet die land verlaat nie.” Hy het gesê die regering sal die gewelddadige aanvalle op uitlanders stopsit, maar die skare het teruggeskree: “Dis te laat!”

Zuma het gesê die regering sal uitlanders bystaan wat graag na hul lande wil terugkeer, maar hy wil hulle verseker dat hulle nie die land hoef te verlaat nie en dat die regering die situasie sal stabiliseer.

ʼn Uitlander, wat anoniem wou bly, het gesê daar is min wat Zuma kan doen of sê om die haat vir uitlanders te onderdruk. “Hulle wil ons doodmaak. Dit sal beter wees as ons huis toe gaan. Ons wil nie hier bly nie. Hulle sal nie na Zuma luister nie. Sy toesprake kan nie ons lewens red nie,” het sy gesê.

Zuma het nie-regeringsorganisasies en vrywilligers by die kamp geloof vir hul pogings en daarna ʼn skenking van R50 000 vir die kampe in Chatsworth en Phoenix aangekondig.

Ná Zuma se toespraak het die situasie genormaliseer en beamptes van binnelandse sake het deurnag gewerk om dokumentasie gereed te kry vir uitlanders wat die land wou verlaat.

Ongeveer 30 busse het vroeër die dag by die kamp opgedaag. Uitlanders sal vermoedelik met die busse na hul lande vervoer word.

Koning Goodwill Zwelithini sal Maandag ʼn anti-xenofobie-beraad by Curries Fountain-sportterrein hou. Dit sal die koning se eerste openbare toespraak wees sedert sy omstrede uitlatings oor uitlanders verlede maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adoons ·

Solidariteit stel R100,000 beskikbaar vir die skoonmaak van beelde. Die staat stel R50,000 beskikbaar om slagoffers van vreemdelinghaat by te staan?

Peet Schabort ·

Adoons, skynbaar is die Nkandla-beursie aan die leë kant.

Gerhard Bezuidenhout ·

Zuma het nog nooit n sent bewillig om blanke huishoudings waarvan die broodwinners deur sy kaders vermoor is by te staan nie en hier skenk hy R50,000,00 om uitlanders wie op ons belastingbetalers teer by te staan . Hy het nog niks te se gehad oor die uitlatings van se verwaande seuntjie en nuttelose koning nie .Die uitlanders het hom uitgejou en ek hou daarvan want vir baie Suid Afrikaners is hy onwelkom soos n uil tussen n trop voels.

CJAN ·

Eerstens wie het die uitlanders hier toegelaat? Dit was Zuma. Nou raak die SA mense de joos in en nou skenk Zuma R50 000 om die mense te repatrieer.

J.Z ·

Zuma jy kon nog niks regstel in SA nie ,hoe gaan jy dit nou doen? Die moeilikheid is die nuwe apartheid is die moeilikheid wat julle altyd ontken.

Peet Schabort ·

Stel jou voor: “President Zuma het die Ploegskaar-boerevereniging besoek tesame met die ministers van veiligheid en polisie. Hy is besorg oor die wreedaardige dood van mnr. Boer wat vier dae gelede plaasgevind het. Ook het hy melding gemaak dat daar nou ‘n einde gemaak moet word aan die moord op boere. Bla . . .bla . . .bla.”
DIS ‘n APRILGRAPPIE WAT BIETJIE LAAT DEURGEKOM HET.
(Die res is gesensor deur my).

Charlotte ·

Ja nee zuma en sy volgelinge al wat julle in hierdie land regkry is om die nasie uitmekaar te skeur,ek voel baie hartseer oor die standbeelde wat jou mense so skend,ons as kleurling kinders het dit as geskiedenis geleer,en ek moet sê dit was die lekkerste geskiedenis,los asb die standbeelde uit….as julle nou klaar dit vernietig het waarmee is julle volgende ontevrede…..

Jo ·

Dave jy het ‘n belangrike uitvaagsel vergeet. FW de Klerk. ‘n Verleentheid vir Suid Afrika.

Dave ·

Skuus vir die herhaling en dankie vir jou uitwysing, Jo. Moes ook De Klerk se naam bygevoeg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.