Zuma-verhoor gaan voort, oproer ten spyt

Die korrupsiesaak teen oudpres. Jacob Zuma gaan Maandag voort. (Argieffoto: Kim Ludbrook/AFP)

Die voortslepende korrupsieverhoor van oudpres. Jacob Zuma gaan Maandag voort ten spyte van die vernietigende geweld wat die afgelope week deur die land gespoel het en aanvanklik begin het as protes teen sy tronkstraf op ʼn onverwante saak.

Altesame 16 klagte staar Zuma in die gesig vir die 1999-aankoop van onder meer vegvliegtuie, patrolliebote en weermagtoerusting van vyf Europese firmas terwyl hy Suid-Afrika se adjunkpresident was.

Hy word daarvan beskuldig dat hy sowat R4 miljoen in omkoopgeld van een van die maatskappye, die Franse vervaardigingsreus Thales, in sy sak gesteek het. Thales staan ook tereg op aanklagte van korrupsie en geldwassery.

Die verhoor het in Mei begin na verskeie uitstelle en vertragings terwyl Zuma se regspan verbete probeer het dat die aanklagte teen hom laat vaar word.

Die 79-jarige Zuma was met die aanvang van die verhoor self in die hof en het onskuldig gepleit.

Thales het ook onskuldig gepleit en die saak is uitgestel tot môre.

Sake het egter op 29 Junie begin skeefloop toe Zuma skuldig bevind is aan minagting van ʼn bevel van die Konstitusionele Hof vir sy versuim om voor die kommissie na staatskaping te verskyn.

ʼn Week later het hy sy tronkstraf van 15 maande begin uitdien.

Sy opsluiting het betogings in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal, veroorsaak wat eindelik gelei het tot dae lange gewelddadige plundertogte en brandstigting wat later ook na Gauteng oorgespoel het. Meer as 200 mense is reeds in die oproer dood.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat die amp opgeneem het te midde van beloftes om korrupsie hok te slaan, het gesê die opstande was ʼn “gekoördineerde en goed beplande aanval” op die land se demokratiese bestel.

“Onder die voorwendsel van ʼn politieke grief, het diegene agter die dade probeer om ʼn burgerlike opstand uit te lok,” het Ramaphosa Vrydagaand gesê.

Stabiliteit op die spel

“Mense gaan die regters se optrede fyn dophou,” sê die politieke ontleder Sipho Seepe.

“As hulle voel dat geregtigheid nie geskied nie, gaan hulle betoog.”

Maandag se verrigtinge gaan wentel om Zuma se aansoek dat hoofaanklaer Billy Downer hom aan die saak onttrek. Zuma beskuldig die advokaat onder meer daarvan dat hy inligting aan die media uitgelek het.

“Ons gaan ʼn pleidooi lewer dat die aansoek van die hand gewys word,” sê Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Mhaga sê die saak sal aanlyn aangehoor word om enige “ontwrigting” te voorkom.

Ralph Mathekga, ʼn politieke ontleder en skrywer van When Zuma Goes, sê regters in die korrupsiesaak sal nie swig onder “politieke druk” nie.

“Om mnr. Zuma nié te vervolg nie, sal ernstige gevolge vir die oppergesag van die reg inhou. Hulle sal die storm moet trotseer.”

Zuma en sy ondersteuners het al herhaaldelik die ondersoeke na die oudpresident as polities gedrewe bestempel en gewaarsku dat sy opsluiting oproer kan veroorsaak.

Hulle ontken egter dat hulle agter die afgelope week se chaos sit.

Carl Niehaus, ʼn goeie vriend van Zuma, het die afgelope week gesê “daar is geen gekoördineerde veldtog om die plundering en geweld te lei nie”.

“Daar is wel ʼn opstand van mense wat diep bekommerd en woedend oor sy tronkstraf is.”

Zuma vra die hof intussen om sy 15 maande tronkstraf wat in die minagtingsaak opgelê is, te herroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blomme ·

En so is arme Zuma weer die slagoffer. Wanneer gaan die man verantwoordelikheid vir sy dade neem. Al ń bejaarde wat nog steeds soos ń stout kind onskuldig speel.

Tiptol ·

Carl Niehaus moet ook iewers opgesluit word. Kan nie glo hy kan self glo wat hy kwytraak nie.

DIABLO ·

Carl, jy kannie n bloedbad proffesseer en dan onskuldig pleit oor die betogings nie. Jy het saam gewerk om mense op te sweep. Hou op met lieg. Beter nog, verdwyn net heeltemal van die radar af en laat sake sy gang gaan in die hof.

Jerry ·

Die ongelukkige waarheid bly maar dat zuma nie werklik veel verantwoordelikheid sal neem of enige merkwaardige straf sal ontvang nie.

Androclus ·

Hy moet binne bly en gee hom nog 79 jaar volgens sy ouderdom asb.

Jack ·

Zuma se gevoel van moraliteit is so deur gierigheid en magsbehepdheid verwronge dat hy nie meer die verskil tussen leuns en die waarheid kan raaksien nie. Hy is n meester in bedrog en rusland of china gaan hom sekerlik n doktorsgraad in bedrog en swendelary toeken. Hy verdien dit.

Tokkel ·

Karel Kat, jy moet liewers net jou mond toe hou! Plundering het hulle geleer by die EFF, wat ook al lankal aan die pen moes ry. Dit begin indie Parlement met hulle omverwerping van reels en regulasies, nou sien die publiek wat aangaan en doen dieselfde. EFF brand mos af en beskadig als, hy doen mos die voorbeeld en kom weg daarmee. Zuma het nou al jare van voorbereiding, hy moet die streke al uit sy kop ken en het glad nie ‘n regverteenwoordiger meer nodig nie. Hoop meneer Ramaphosa het nou sy les geleer met hulle.

Michael ·

Die konstitusionele hof het nie die outoriteit om ‘n aangeklaagde van minagting van die hof tronkstraf te gee nie. Die naam van die hof is selfverklarend. Zuma is wederregtelik deur hulle gevonnis of ons daarvan hou of nie. Hierdie is ‘n politieke vonnis wat deur die ANC gedryf is

Erika ·

Kwaadwilliges Speel altyd slagoffer en hulle ontken alles… Hulle vat nooit verantwoordelikheid vir hulle eie dade nie.. En is altyd omring deur supporters because they are Cowards

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.