Zuma: Wat gebeur nou?

Argieffoto

Suid-Afrika gaan waarskynlik môre, of op die laaste Vrydagoggend, ʼn nuwe president kry, maar die groot baklei in die ANC het nou eers begin.

Gerugte loop in hierdie stadium die hele parlement vol en net een ding is doodseker: Môre gaan ʼn dag van politieke drama en hoogspanning wees soos wat Suid-Afrika lanklaas gesien het.

Die grootste chaos is in die ANC, met die regerende party van bo tot onder verdeeld, en pres. Jacob Zuma wat duidelik soveel skade aan die ANC gaan aanrig as wat hy moontlik kan.

Om te wys hoe verdeeld en in die war die ANC is, kan die volgende chronologie help:

* Gistermiddag hou Ace Magashule, wat dalk nog dieper as Zuma in die moeilikheid is oor staatskaping, ʼn mediakonferensie waarin hy verskeie pro-Zuma onwaarhede verkondig, waarvan die belangrikste is dat geen spertyd om te bedank aan Zuma gestel is nie. Magashule lyk omtrent so lus om op die mediakonferensie te wees soos iemand wat in die tandartsstoel sit. Hy lyk trouens net gemaklik wanneer hy Zuma se lof besing.

Ace Magashule. Foto; ANC/Twitter

* Enkele ure later sê Malusi Gigaba, minister van finansies, op CNN dat daar wel ʼn spertyd van 10:00 vanoggend vir Zuma gestel is om te bedank.

* Nog ʼn paar uur later sê Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en Jackson Mthembu, die ANC-hoofsweep, die spertyd vir die Zuma-bedanking is eintlik middernag.

Wat hierdie drie teenstrydige verklarings wys, is dat iemand (of twee van die drie) gejok het, of dat die ANC beheer oor die proses verloor het, of albei.

Voort dan na vandag, en die uiters vreemde situasie dat die ANC-koukus nie soos altyd sy opdragte van die sekretaris-generaal ontvang nie, maar van die tesourier-generaal, Paul Mashatile.

Dit is baie moeilik om die moontlikheid uit te sluit dat Magashule, veral na sy onbeholpe pro-Zuma vertoning van gister, gewoon nie vertrou word om die koukus korrek in te lig nie.

Om ANC-LP’s hier by die parlement vandag dop te hou was ook ʼn les in twee wêrelde. Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling en ʼn Zuma-lojalis, het hard en ongepoets in haar selfoon geskree met woordkeuses wat nie op Maroela Media tuishoort nie. Vir haar is die lewe kennelik nie ʼn lied nie. Maar oudminister Derek Hanekom, een van Zuma se felste kritici, lyk soos ʼn kat wat room gekry het. As hy nie ore gehad het nie, het hy reg rondom sy gesig geglimlag.

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Mashatile en Mthembu het ʼn netjiese uiteensetting gegee van hoe hulle beplan volgende week gaan verloop. Dit lyk so:

* As Zuma nie voor die tyd bedank nie (en dit lyk nie asof hy gaan nie), sal die EFF se mosie van wantroue môre 14:00 voor die Nasionale Vergadering dien. ʼn Debat sal plaasvind en dan sal tot stemming oorgegaan word. Maar die ANC sal nie toelaat dat die EFF die eer kry nie, so ná die debat sal die ANC wysigings aan die EFF-mosie voorstel. Omdat daar altyd eers oor wysigings gestem word en die ANC die meerderheid het, sal die ANC-wysigings aanvaar word, en die EFF se mosie sal wegval.

* Die Nasionale Vergadering sal of direk daarna, of Vrydagoggend, ʼn nuwe president kies, met die ANC-kandidaat wat behoort te wen. In hierdie stadium behoort Cyril Ramaphosa die ANC-kandidaat te wees.

* Vrydagaand sal die staatsrede dan gelewer word deur die nuwe president.

Maandag en Dinsdag sal die debat oor die staatsrede volg.

* Woensdag sal die begroting gelewer word.

Zuma tydens Woensdag se onderhoud. Foto: Skermskoot/SAUK

Maar pas nadat Mashatile en Mthembu hul pragtige planne bekend gemaak het, het Zuma ʼn langdradige onderhoud met die SABC gevoer.

Hy was uiters onsamehangend, maar het basies vyf punte gemaak: Hy gaan nie bedank nie; hy het niks verkeerd gedoen nie; hy is die onskuldige slagoffer van ʼn komplot deur sy vyande; hy het aanvoorwerk vir ʼn hofgeding gedoen en geweld kan uitbreek as hy so sleg behandel word.

Niemand weet dus wat môre gaan gebeur nie, maar daar is twee vertragingstaktieke wat Zuma kan probeer. Hy kan die Wes-Kaapse hooggeregshof om ʼn interdik teen die mosie nader – wat hy sal verloor, maar die hof sal dit eers moet aanhoor, en so wen hy tyd.

Tweedens is die grondwet vaag oor ʼn mosie van wantroue. Die grondwet bepaal “die president moet sy bedanking inhandig” nadat so ʼn mosie aanvaar is, maar geen tydraamwerk word gegee nie, wat Zuma dalk met nog ʼn jakkalsdraai laat.

Hoe dit ook al sy, hou môre maar dop. Dit gaan ʼn dag van geskiedkundige drama wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gesiggie ·

Hou op Zoommmma.. bedank en kry klaar… ons soek n bietjie berigte wat saak maak, en n nuwe foto van iets anders op Maroela Media,,,, kry asb tog net klaar met die Zuma saak”’ dit raak nou Boring…..

humor ·

Ag, hoe gaan die arme man vannag slaap? O,ja heeltemal soet en rustig want hy het geen idee wat hy verkeerd gedoen het nie en tog ja hy is sonder n gewete gebore.

Niel ·

Jan-Jan, baie dankie vir jou insigwekkende artikels rondom Zuma. Dit gee vir my ‘n idee wat aangaan.

Alida ·

Dat een bokwagter so kat en muis kan speel en dit word toegelaat gaan mens se verstand te bowe!

Paul ·

Wéér Jan-Jan?? En die dag as hy oor die Afrikaner an Afrikaans skryf?? Die Taal??

Cherokee ·

Bietjie raamwerk oor dit waarvan jy praat, Paul. Dit mag wees dat jy iets interessant aanvoor maar wees meer duidelik asseblief.

Paul ·

Cherokee, lees gerus die geskiedenis, Google dit van Rapport/Beeld se dae af se artikels, ander name kom ook by my op wat van dieselfde ingeseldheid is, Christi en nog ander val in dieselfde kategorie as hulle oor Afrikaans of die Afrikaner skryf.

Paul ·

Cherokee, nader aan die huis, Maroela het paar jaar gelede ‘n artikel wat deur Danie Goosen geskryf is geplaas met opskif “Afrikanergesiedenis, so gesensureer”. Google dit.

Hannes ·

Zuma is banger vir iets anders as om nie meer president te wees nie of selfs die tronk.

CHRISTA ·

Zuma wil die kernkragooreenkoms wat hy met die Russe gesluit het deurforseer, want hy weet as jy die Russe in die steek laat, sny hulle jou keel af met ‘n stomp mes. daarom wil hy net nog ‘n paar ekstra maande aanbly!!

Francois Joubert ·

Daar word beweer, deur meer as een, dat Zuma reeds ‘n ou geldjie van Rusland ontvang het vir die kernkrag sakie. Ek vermoed hy moet ‘n paar sake uitklaar voor hy verdwyn want iemand gaan aan sy deur kom klop, en die persoon gaan nie afrikaans of zulu praat nie.

hendrik ·

Oppas vir hierdie jakkals. Ek se al lankal hy is n psigopaat en hy het die weermag aan sy kant.

Naam ·

Zimbabwe…. hier kom dit gouer, en gouer, en gouer…… tra-la-la-la-la….. en die spul naïewe wittes dink steeds dat die een of ander “local” die land beter sal kan bestuur as die huidige een…… hahahahahaha………

Lynne ·

Stem! Be careful what you wish for! As Lindiwe Zulu klaar geswets het, gaan die Afrikaners begin swets!

Pieter ·

Kan dit waar eees dat die voormalige liberale Jan-Jan so samehangend en realisties kan skryf. Dae van wonderwerke is nie verby nie. Dankie Jan-Jan.

Flip Pretorius ·

En nou Zoom Zoom nou is jy stil, ons hoor niks van jou ophemel van jou geliefde president nie

Nettie ·

Jippee !!!!!!!!!!!!! Zuma is gone …………………Nou moet Ace Magashule die volgende een
wees want hy het n vinger in die pastei met die Vrede suiwel projek …………………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.