Zuma wil aanklaer privaat vervolg

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Jerome Delay/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma het Sondag aangekondig dat hy van voornemens is om adv. Billy Downer, hoofaanklaer in sy korrupsieverhoor, privaat te laat vervolg oor die uitlek van sy mediese rekords.

Zuma, wat Dinsdag sy 80ste verjaarsdag vier, se hofsaak hervat Maandag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof. Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan tereg op verskeie aanklagte van bedrog, swendelary en geldwassery wat verbind word met ʼn multi miljard rand se wapentransaksie.

Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting, het in ʼn verklaring gesê dat hy die afgelope week desperate pogings deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesien het om Downer se naam skoon te hou. “Lede van die media sal weet dat Sy Eksellensie die president ongeveer ses maande gelede, op 21 Oktober 2021, by die Pietermaritzburg-polisiestasie was om ernstige strafregtelike klagtes teen adv. Downer en sy medepligtiges aanhangig te maak.”

Manyi sê dit hou verband met die uitlek van vertroulike inligting aan ʼn verslaggewer, in oortreding van die NVG-wet en dit is onder eed ook só bevestig deur Downer.

“Die NVG het sedertdien sy voete gesleep en allerhande verskonings aangebied vir ʼn gebrek aan vordering in die ondersoek na Downer en die ander. ʼn Raserny van aktiwiteit het egter die afgelope week ontstaan toe die polisie op 1 April 2022 ʼn verklaring in Kaapstad van adv. Breitenbach SC, een van die geïmpliseerde vervolgers, geneem het en nóg ʼn verklaring op 7 April van Karyn Maughan by die Rosebank-polisiestasie in Johannesburg.

“In die middel hiervan en op 5 April is ʼn besluit deur die NVG geneem dat hy nie adv. Downer gaan vervolg nie. Deur die verwarring heen blyk dit dat die linkerhand nie geweet het wat die regterhand doen nie.”

Zuma het nou sy regspan opdrag gegee om met onmiddellike effek te begin met privaat vervolging teen Downer.

Zuma sal na verwagting Maandag ook versoek dat die hofsaak weer uitgestel word. “Al wat Sy Eksellensie pres. Zuma rêrig wil hê is sy dag in die hof, in ʼn regverdige verhoor en beslis nie in ʼn forum wat deur die staat gemanipuleer word nie. Die vorige onregverdige en verkeerde besluite sal hopelik deur ander hoër howe reggestel word.” Zuma se span sal egter vir uitstel vra “omdat die toestande tans klaarblyklik nie ʼn regverdige verhoor gaan verseker nie”. “Die regspan van pres. Zuma is egter gereed om sy saak môre voor te hou en totdat geregtigheid seëvier,” het Manyi bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Ettienne ·

Waarom word daar nou na Mnr. Zuma verwys as sy Eksilensie?

Kirst ·

Dis hoe hulle rol. Nes in Zim waar hulle tot sy dood vir Mugabe vereer en gerespekteer het ten spyte van wat hy aan hulle land gedoen het.

Strandloper ·

Wat n klugspel wat grens aan raserny, die som van n vrot magsbehep wat voortsleep in die anc. Ons staan magteloos as toeskouers. Dankie ja broers. My kinders betaal die prys.

Nie Verbaas ·

Besef Zuma hoe pateties hy werklik is met al sy vrugtelose pogings om van Downer ontslae te raak? Hy weet hy is skuldig in Thales saak en probeer nou alles in sy vermoë om die proses te kniehalter.

Di ·

Ek kan nie wag vir die dag wat ons van hierdie skelm ontslae gaan wees nie. Mens word skoon siek om elke dag sy gesig in die nuus te sien.

Charl ·

Sy eksellensie!! Van wanneer af ?? Laat dit klink of hy een of ander hoogwaardige ampsdraer is, hy wás “president” maar díé het hy deur sy gat getrek soos alles wat eens staande was in hierdie land todat hy aan bewind gekom het. Sy eksellensie… asseblief, meer eerder péstillensie !

Rooikopheks ·

Sy eksellensie die president??? Dalk sy pestilensie die gewese president!!!!

Misky ·

“Sy Eksellensie”, vir jou wil ek ook privaat vervolg, want jy gee my ‘n bloeiende maagseer. Gmppfff

Boer ·

Zuma speel vir tyd, Hy gaan dood wees van ouderdom voor sy verhoor eendag klaar gaan wees.

Swerwer ·

So Zuma weet hy is skuldig en dus moet ander aan die pen ly wat geregtigheid moet toepas. Slinkser sal jy seker nie in die lewe kry as Zuma nie.

Waarnemer ·

Stel adv Gerrie Nel aan om saam met adv Billy Downer sy ekselensie gevangene nr….terug te sit waar hy hoort….en help sommer die res vd korrupte regering om sy ekselensie te join.
Sy ekseselensie gaan ons belasting ggld gebruik om adv Downer privaat te vervolg.

Suzette ·

HOEKOM word hierdie skepsel toegelaat om dit te doen – in die eerste plek? Hoekom word hy nie summier in sy spore gestop – deur die sogenaamde REGSTELSEL? Dit kan mos nie so aanhou nie – almal weet mos nou teen die tyd dat hierdie skepsel besig is met vertragingstegniek en nie verantwoording wil doen vir sy skelmstreke, terrorisme en korrupsie nie…regtig!!!!!

Andre ·

Is dit nog afleiding van die huidige gevaar wat verdoesel word?

Christa ·

ñ Regte jakkals. “SY EKSELLENSIE”…please. ANC manupileerder van die eerste water. Benoude katte maak benoude spronge. Hoop hierdie is sy laaste sprong, tot binne in die tronk waar hy hoort.

Erika ·

Zuma is Regtig Desperaat om Nie verantwoorbaar gehou te word nie dis is n tipiese taktiek Om om van Adv Billie Downer uit die pad te kry….

anko ·

Hoekom gaan Z so te kere. Hy beweer mos hy is onskuldig. Gaan hof toe en bewys dit en saak is verby. Hoe meer katspronge hy doen op die warm plaat hoe meer skuldig vertoon hy

Owlie ·

Dis tyd dat die President wys wat hy werd is en inklim en hierdie speletjie, tyd en geld mors vsn Zuma en sy regspan met alle kostes teen beide Zuma en regspan stop Daar is ander belangrike sake wat ook aandag nodig het Vonnis en kry klaar sodat die ander sake af gegandel kan word

SjN ·

Sy mediese rekords wat volgens hom uitgelek is vertel seker die waarheid.

Marcello ·

Ons almal weet mos dit is ‘n poging van Zuma om die saak teen hom te vertraag, hoop die Regter sien dit so.

tierwyfie ·

Zuma het nou genoeg woer woer met die howe gespeel. Vanoggend weer nie opgedaag by hof. Hy makeer niks. Die verhoor kan sonder hom voortgaan

Blikkies ·

Sy Eksellensie is Excellent om homself as ‘n rampokker uit te beeld.

Swerwer ·

Nou op die nuus gewees dat die bang alie nie opgedaag het die die hof nie maar konsuis weer siek begin word het. Genade maar hy is glibberiger as ‘n paling

Jr ·

Dhali mhpufi insists in court this morning dat zumpie quote “has done everything for the court case to proceed” As hierdie adv???? for real is, is ek ‘n brain surgeon. Sal nie lank wees en die rassisme kaart sal gespeel word deur hom en sy regs span. He he he, now listen carefully

Kobusnutz ·

Dit is net die Mzwanele Manyi se woorde wat aangehaal is. Zuma is net Zuma, niks minder en niks meer nie, Laer as ‘n slak se toonaels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.