Zuma wil appelleer ná Abrahams sy pos kwyt is

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Die presidensie het Vrydag in ʼn verklaring gesê hy dra kennis van die Noord-Gautengse hooggeregshof se besluit om Shaun Abrahams se aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) ter syde te stel en dat hy beoog om teen dié uitspraak te appelleer.

Die hof het Vrydag bevind Abrahams se aanstelling was onwettig en moet daarom ter syde gestel word.

Dié uitspraak volg nadat burgerlike organisasies die hof genader het om ʼn goue handdruk van R17 miljoen wat Mxolisi Nxasana, Abrahams se voorganger, in 2015 ontvang het onwettig te laat verklaar.

“Terwyl die president vir ʼn volledige oorsig van die uitspraak wag, is hy aangeraai dat daar, met alle respek gesê, talle elemente is wat aandui dat ʼn appèl suksesvol kan wees,” lui die verklaring.

Die presidensie het gesê die Nasionale Vervolgingsgesag is ʼn belangrike liggaam in Suid-Afrika se Grondwet en aanstellings word daarom nie ligtelik gemaak nie. Hy het ook gesê die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), tesame met die land se hoofregters, speel ʼn belangrike rol in die land se strafregstelsel.

Die presidensie het gesê dié appèl sal uit “respek vir die hof en die regstelsel” die normale gang van hofverrigtinge laat verloop.

Maroela Media het vroeër berig pres. Jacob Zuma het in Junie 2015 ʼn skikkingsooreenkoms met Nxasana bereik waarvolgens Nxasana sy posisie as NDOV van 1 Junie 2015 af sou verlaat.

Die ooreenkoms het gevolg ná ʼn tien maande lange struweling tussen Zuma en Nxasana. Die struweling het in 2014 begin toe Zuma ’n ondersoek aangevra het om te bepaal of Nxasana bevoeg is om sy amp te beklee. Dié stap het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat Nxasana versuim het om vorige botsings met die gereg te verklaar, waaronder ʼn aanklag van moord in die 1980’s waarop hy vrygespreek is.

Abrahams is kort ná Nxasana se bedanking in 2015 as die nuwe hoof van die NVG aangestel.

Nxasana het intussen gesê hy is gewillig om die skikkingsbedrag terug te betaal en na sy posisie as NDOV terug te keer. Die hof het egter bevind dit sal nie gepas wees vir Nxasana om na sy posisie terug te keer, óf vir Abrahams om in die pos aan te bly nie.

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa moet nou binne die volgende 60 dae ʼn nuwe NDOV aanstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

N Naude ·

Regtig Zuma so gesteld op ander se geleerdheid. Laat hy asb sy gr 12 en verdere opleidings sertifikate op die tafel sit.

René Prinsloo ·

Ek wonder hoekom? Een van sy kaders kan hom nie meer beskerm nie. Benoude katte maak benoude springe hahaha

JZ ·

Stem saam met Rene Prinsloo,Ou no1 se lont brand nou tamlik kort.

GR ·

As hy appelleer moet hy hofkostes uit sy sak betaal hy weet hy was verkeerd nou moet die belasting betalers weer vir sy gemors betaal

PJC ·

Hoe laat hierdie uitspraak ń man nou met ń breë glimlag op die gesig.

Reti ·

Appelleer hy met sy EIE geld of word dit geborg deur julle weet wie?

Coenie ·

Dit nou vanaf n party wat deurdrenk is van korrupsie en diskriminasie beleide teen wit mense en wat kan spog met die swaks geskoolde leier in die wêreld

christa ·

En nou mors hy al die arm mense se geld sluit Hulle almal toe se ek weet gooi weg die sleutel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.