Zuma wil appelleer oor terug-tronk-toe-besluit

Oudpres. Jacob Zuma se regspan vra toestemming om verlof tot appèl teen ‘n uitspraak wat hom beveel om die res van sy tronkstraf uit te dien. (Foto: Jerome Delay/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma se regspan het reeds sy aansoek ingedien om verlof tot appèl teen ʼn uitspraak wat hom beveel om die res van sy tronkstraf uit te dien.

Die Pretoriase hooggeregshof het Woensdag beslis dat Zuma se vrylating op mediese parool onreëlmatig was. Dit is ter syde gestel en die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat is vervang met ʼn besluit om Zuma se aansoek daarvoor te verwerp.

Die hof het voorts beveel dat Zuma moet teruggaan tronk toe om die res van sy tronkstraf uit te dien. Die tydperk wat hy op mediese parool vrygelaat was, mag boonop nie deel vorm van die 15 maande tronkstraf wat die Konstitusionele Hof hom vroeër vir minagting opgelê het nie.

Die Jacob Zuma-stigting het kort gelede aangekondig dat die oudpresident die uitspraak in ʼn hoër hof gaan betwis.

Volgens die stigting is die uitspraak “duidelik verkeerd en daar is ʼn sterk moontlikheid dat ʼn hoër hof tot ʼn heeltemal ander gevolgtrekking sal kom”.

Die VF Plus het vroeër in reaksie op die hofuitspraak gesê dit bevestig die vermoede dat Zuma se mediese parool ʼn rookskerm was om hom uit die tronk te hou.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die uitspraak beteken ook dat Arthur Fraser, die voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste (DKD) – wat Zuma se aansoek om mediese parool goedgekeur het – onwettig opgetree het en daarvoor verantwoording sal moet doen.

“Die regsproses het groot koste-implikasies gehad en die VF Plus is van mening dat hierdie geld van Fraser verhaal moet word.”

Die hof het Zuma en Fraser wel beveel om die koste van die aansoek om Zuma se vrylating op mediese parool ter syde te laat stel, te betaal.

Lamola moet ook skuld dra

Groenewald sê die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, kan ook nie voortgaan om sy skouers oor die aangeleentheid op te trek nie. “Die VF Plus sal nie toelaat dat die minister so maklik sy verantwoordelikhede ontduik nie. Daar het baie vrae om Zuma se gesondheid bestaan en die besluit om hom op mediese parool te plaas, is wyd bevraagteken.

“Terwyl dit gebeur het, het Lamola besluit om anderpad te kyk. Dit is duidelik dat hy Zuma met hierdie optrede ter wille was en sodoende deel gehad het in optrede wat ʼn hof nou as onwettig bestempel het.”

Groenewald sê die wiele van geregtigheid draai stadig en soms té stadig, maar hierdie uitspraak stuur die boodskap dat geregtigheid eindelik tog seëvier.

John Steenhuisen, leier van die DA, het intussen gesê die party het nie die saak uit moedswilligheid of wraaksug gedryf nie, maar omdat die DA besef respek vir die oppergesag van die reg en gelykheid voor die reg is een van die twee belangrikste beginsels van die demokrasie.

Regter Elias Matojane het elkeen van Fraser se redes oor hoekom hy die Mediese Adviesraad se aanbevelings oor die oudpresident se vrylating verwerp het, as irrasioneel, irrelevant en ʼn regsdwaling verwerp.

Die regter het ook bevind Fraser het die straf wat die Konstitusionele Hof opgelê het, onreëlmatig versag en die bevel ondoeltreffend gemaak. Dít ondermyn respek vir die howe, vir die oppergesag van die reg en vir die Grondwet self, het Matojane bevind.

Steenhuisen sê hoewel dit vir niemand aangenaam is om tronk toe te gaan nie, het Zuma goed geweet wat die gevolge vir sy blatante verontagsaming van die wet en die gesag van die Konstitusionele Hof sou wees.

“Wat die uitspraak bevestig het, is dat hy net ʼn gewone burger met geen spesiale voorregte is nie en dat die wet net so veel vir hom as vir enige van ons geld.

“Ons doen ʼn beroep op mnr. Zuma en sy ondersteuners om die oppergesag van die reg te respekteer en die uitspraak te aanvaar sonder om hulle tot verdere geweld en betogings te wend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Sluit net die skepsel saam met AL sy maatjies toe en gooi sleutels weg.

Renier johannes

Mors on belasting geld sluit hom toe

Mariana

Tyd vir boetedoening moet nou aanbreek vir Zuma en die wat hom gehelp het. Hy dink hy is verhewe bo als en almal. Hulle sal dit egter beveg en waarskynlik ook weer onrus veroorsaak en aanblaas.

Diline

Hier gaan ons alweer! Wat verstaan die man nie, tronk toe sal hy gaan al appelleer hy ‘n duisend maal. Hy speel net vir tyd en minag die howe. Hy is NIE verhewe BO die wet nie, hoe gouer hy tronk toe gaan, hoe vinniger sal hy sy tyd uitdien. Hy is nou soos enige ander landsburger in hierdie land, no more MR President wat kan wegkom met als nie. Hoop hy betaal sy eie regs onkostes hiervoor

Skappie

Ja, gooi hulle almal saam in een tronksel, en laat hulle sit.