Zuma ‘wil nie uit tronk verhoor word’

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma wil nie aanlyn verhoor word in die korrupsiesaak teen hom en die Franse wapenvervaardiger Thales nie. Dit is die jongste verskoning oor waarom hy die saak vir die soveelste keer wil laat uitstel.

Die Zuma-kamp het Maandag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof gevra dat die verhoor “onder die huidige omstandighede” vir drie weke uitgestel word. Die oudpresident dien tans tronkstraf uit vir minagting van die hof. Weens onluste wat die afgelope week in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het, juis uit verset teen Zuma se inhegtenisname, moes Maandag se verhoor aanlyn plaasvind.

Die verdediging het vandag – net soos verlede Maandag in die Konstitusionele Hof – aangevoer dat Zuma se regte deur die staat beperk en dus geskend word. Sy regspan beweer hierdie keer dat die oudpresident benadeel sal word sou hy gedwing word om aanlyn verhoor te word.

Dít terwyl die staat vandag versoek het dat Zuma se spesiale pleitrede, dat hoofaanklaer adv. Billy Downer hom aan die saak onttrek, vandag reeds aangehoor moet word. Zuma beskuldig die advokaat onder meer daarvan dat hy inligting aan die media uitgelek het.

Volgens die staat is die saak in beëdigde verklarings uiteengesit, wat reeds by die hof ingedien is, en kan die saak dus voortgaan sonder enige mondelinge getuienisse.

Adv. Dali Mpofu, Zuma se regsverteenwoordiger, het egter in die hof aangevoer dat sy kliënt geregtig is tot ’n openbare verhoor in persoon. “Dit kan nie in belang van geregtigheid wees as die verhoor in absentia plaasvind nie.”

Volgens Mpofu het die verdediging boonop nog glad nie met Zuma oor die betrokke saak gekonsulteer nie. Hy voer aan Zuma se regte sal geskend word sou hy tydens die verhoor telefonies en nie in ’n hof met sy regspan mag konsulteer nie.

Thabani Masuku, wat ook namens Zuma optree, het gesê dat Zuma se “waardigheid en privaatheid” geskend sou wees indien hy gedwing word om “oor ander se selfone” met sy regspan te konsulteer.

Masuku het voorts gesê nóg Zuma nóg die staat sal benadeel word sou die verhoor met enkele weke uitgestel word. Hy sê ook ’n uitstel is geregverdig onder die huidige omstandighede.

Die staat het egter nie hiermee saamgestem nie en het die aansoek om uitstel teengestaan.

Adv. Dali Mpofu (links), Zuma se regsverteenwoordiger en adv. Billy Downer, staatsaanklaer, vroeër in die hof. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Volgens adv. Wim Trengove is ’n aanlyn verhoor as openbare verhoor heeltemal wettig en sal “nie minder regverdig of minder openbaar wees as wat dit in ’n hofsaal sou wees nie”.

Trengove het voorts gesê Zuma het die afgelope tien jaar elke truuk in die boek probeer om te verhoed dat hy sy dag in die hof kry.

Masuku meen dit is uiters kommerwekkend dat die staat die aansoek om uitstel teenstaan, gegewe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se behandeling van die oudpresident.

“Dit is nie reg van die staat, spesifiek die NVG, dat hulle Zuma anders behandel nie. Hulle doen dit al vir te lank,” het Masuku gesê.

Masuku het verder daarop gewys dat die Covid-19-pandemie ook ’n rol te speel het en dat talle ander verhore tans uitgestel word. “Wat is die dringendheid?” wou hy vanmiddag weet. Die saak sleep al vir 15 jaar voort.

Zuma word deur 16 klagte in die gesig gestaar vir die 1999-aankoop van onder meer vegvliegtuie, patrolliebote en weermagtoerusting van vyf Europese firmas terwyl hy Suid-Afrika se adjunkpresident was.

Hy word daarvan beskuldig dat hy sowat R4 miljoen in omkoopgeld van een van die maatskappye, die Franse vervaardigingsreus Thales, in sy sak gesteek het.

Die verhoor het in Mei uiteindelik afgeskop na verskeie uitstelle en vertragings terwyl Zuma se regspan verbete probeer het dat die aanklagte teen hom laat vaar word. Zuma was met die aanvang van die verhoor self in die hof en het onskuldig gepleit.

Sake het egter op 29 Junie begin skeefloop toe Zuma skuldig bevind is aan minagting van ʼn bevel van die Konstitusionele Hof vir sy versuim om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te verskyn.

ʼn Week later het hy sy tronkstraf van 15 maande begin uitdien.

Adv. Barry Roux het vandag namens Thales aangedui dat dié se verdediging gereed is om voort te gaan met die verhoor en bekommerd is oor die moontlikheid van verdere vertragings. Thales staan ook tereg op aanklag van korrupsie en geldwassery.

Zuma se regspan ontken dat hy van vertragingstaktiek gebruik maak. Volgens Masuku is dit die staat se hantering van die saak oor die jare wat tot vertragings gelei het. Die Zuma-kamp sê hy vra hierdie keer bloot vir meer tyd om van die Konstitusionele Hof te hoor.

Regter Piet Koen sal Dinsdag omstreeks 10:00 aandui of die verhoor uitgestel word al dan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Johanncb ·

Die man sal alle pogings aanwend om slegs na homself om te sien, en ons Regstelsel nóg meer in diskrediet te bring!

Ovelia ·

Toe hy ni in di tronk was nie ht hy nt nooit opgedaag vir verhoor ni

Juffrou ·

Wie is hy nou after all!? Nee, moenie sy sin gee nie. Geslepe kalant hy.

Gert ·

Dis nie wat Zuma wil nie dis wat die reg wil net soos vir al die ander mense wat in die sop is, moet ou Zuma maar doen soos dit die reg behaag

Anel ·

En wie moet vir hierdie sirkus betaal? Gaan aan met die voerhoor. Hy hwt genoeg tyd gehad. Niemand anders sal koon wegkom met wat hy mee weg kom nie. Verder, vergeet van sy ouderdom. Toe hy skelm was, het sy ouderdom hom nie gepla nie. Hoekom nou?

Kerneels ·

As Zuma nie die Stalingrad tegniek so mildelik aangewend het nie, was hy ook nie so oud wanneer die korrupsiesaak uiteindelik in die hof voorkom nie.

groenboer ·

Dit is in sy eie belang dat hy liewers solank begin gewoond raak aan die tronklewe…

Johann ·

Net ‘n bietjie raad vir Thales, die enigste pad om weer aanvaar te word is om alles te erken, jou pak te vat en Suid Afrika ‘n “reuse guns” (‘n bietjie laat) te doen. Doen die regte ding en kry dit verby.

Persheks Adri ·

Hy het meer regte as ons op straat dis absurd man! Dis tyd dat hy sy dag kry sonder verskonings magtag man

Peetjie ·

Van wanneer af kan n verhoor afwagtende sulke eise stel…

tweeling ·

As sy naam JZ is en hy 2 arrogante regs verteenwoordigers het

Pieter ·

En so het jy miljoene van ons belasting geld gemors geld wat ons hard voor gewerk het. Tyd dat die belastingbetalers standpunt in neem. Ons betaal vir diens wat ons nie eers kry nie als val uit mekaar.

Mariana ·

Vraag is nou net gaan die hof hom weereens tegemoet kom of besef hulle nou ook al dat hierdie man met hulle mors.

Jerry ·

Wie gee om wat zuma wil he, laat hy die res van sy lewe in die tronk bly!

Ria ·

Hy is mos nou n gewone burger. Hy moet ophou eise stel en die realiteit aanvaar

Vicky ·

Hulle moet ophou dat die puppet master die toutjies trek soos hý wil. Hy is lankal nie meer ñ “honorable member” nie…(‘skuus,hy was nog nooit honorable inelkgeval nie).
Hy is niè bo die wet gehewe nie,dis tyd dat iemand hom van sy troontjie af klap.

Yvonne ·

En die punt is? …..hy wil glad nie verhoor word nie…vir niks nie……so die wet geld nie vir hom nie

DIABLO ·

Hy het tien jaar die geleentheid gehad om in die hof sy onskuld te bewys. Hy het tien jaar lank die hof vermy. Slegs n skuldige tree so op. Nuus vir hom. Hy het sy regte lankal verbeur. Vat nou jou pak en kry einde. Jy kos ons geld! Jy skuld ons geld. Pay back the money!

Nico ·

Dink vir ‘n slag aan Janusz Walus wat nou nog sit vir die moord op Chris Harni wat enige parool deur sy familie gekeer word, dit is presies wat nou met Zuma gebeur, sy kinders en sy gereg span doen nou presies dieselfde. Hoeveel kos dit net aan hofsake wat kort, kort uitgestel word, dit die belasting betaler wat moet pa staan vir kostes.

Kathleen ·

HY MOET MAAR DIE REALITEITE IN DIE GESIG STAAR , HY IS MOS NOU ‘N GEWONE BURGER … OF NIE ? KRY DIT OOR EN VERBY MNR ZUMA DAN WEET JY MOS NOU HOE LANK JY UITEINDELIK GAAN SIT , HOEKOM DIT UITREK ?

Kobus ·

Dis maklik. Laai hom met sy oranje pakkie aan in n vangwa en vat hom hof toe. Wil hy dalk sy eie vervolgingspan en verdedigingspan saamstel? Kan die gewone kriminele ook eis wie en wie nie mag aankla nie? Moet erken,hy weet hoe om die bos te dans

RS ·

Enige rede en poging net om sy toon uit die tronk te kry. Daar broei dalk n plan om hom weg te voer sodra hy dit dalk reg kry om uit die tronk te kom vir die verhoor…. ontsnappings plan.

Leana ·

Dit is tyd dat die howe en staat ophou om hom te “entertain”. Hy het al sy regte verbeur die dag toe hy al die nonsens begin aanjaag het.

Anthony ·

Ons stel nie belang in wat jy wil of nie wil doen nie dief

Akhenatha ·

Hy wil net verdere oproer veroorsaak. As hy in die tronk sit en mense sien hom nie, vergeet hulle van hom. Hy weet as hy uit die tronk uitgaan en mense hom sien, sal nuwe oproer begin. Zuma hardloop al 10 jaar weg vir hierdie saak. Die aanlyn verhoor is heeltemal wettig.

Hettie ·

Korreksie ! Zuma wil nie verhoor word nie !! nerens nie !!

Erika ·

A.C.O.U.N.TA.B.I.L.I.T.Y : The State of being Accountable/Liable for your wrongful Behavior or to be Responsible …….

Tanniepetoors ·

Spelfout daar. Toemaar, Zuma sal dit nie kan lees nie, weet nie wat dit beteken nie en gaan definitief nie verantwoordelikheid aanvaar nie.

Jack ·

Sy streke is meer as die hare op n jakkals se lyf. Moenie sy spel speel nie. Hy is n tronkvoel en kan nie op regte aanspraak maak nie

Anoniem ·

Ja, want hy voer weer iets in die mou. As hy hof toe gaan, gaan sy aanhangers amok maak by die hof en sal sy verhoor nie kan voortgaan nie. Regtig, gaan dit aan hom toegestaan word. Wie is hy in die eerste plek om die reg te hê om te besluit hoe en waar hy wil. Skep ‘n president dat daar weer verwoesting gesaai kan word.

SjN ·

Van wanneer af kan n aageklaagde n regter beveel oor wat hy wil en nie wil nie, vervoer hom hof toe en terug in sy oranje pakkie.

johann ·

Is ons land se regstelsel so sonder tande dat vermeende misdadigers die septer swaai. Dis soos die stert wat die hond swaai. As die probleem by die grondwet lê moet daarna gekyk word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.