Zuma woedend oor kinders se rekeninge ondersoek word

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Oudpres. Jacob Zuma het reageer op ʼn berig in die Sunday Times dat die Zondo-kommissie van Ondersoek na staatskaping sy kinders se bankrekeninge ondersoek.

“Ek, en nie my kinders nie, staan sentraal tot die ondersoek van die kommissie,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Ek het aanvaar dat die kommissie desperaat is om my uit te lewer oor my beweerde rol in ‘staatskaping’. Dit is uiters egter lafhartig om my kinders te teiken deur geheime ondersoeke oor sake waarmee hulle niks te doen het nie. My kinders leef afsonderlike lewens en moet hanteer word soos enige ander kind of persoon wat nie in enige misdaad geïmpliseer word nie. Tot dusver het hulle nie enige kennisgewing ontvang dat hulle op enige manier geïmpliseer word deur enige getuie voor die kommissie nie.”

Zuma sê sy kinders het eers bewus geword van die ondersoek toe verslaggewers hulle gekontak het in die week voor die artikel in die Sunday Times gepubliseer is. “Duidelik is ons weer terug na ou metodes en tye toe die media in kennis gestel is van ondersoeke nog voor die onderwerpe van dié ondersoeke daaroor ingelig is.”

Zuma rig ʼn pleidooi aan die wetstoepassers, die media, die banke en veral die ondersoekbeamptes van die kommissie om sy kinders uit te los. “My kinders was nie in die regering nie en moet nie by ʼn stryd betrek word wat ontwerp is om my te vernietig nie. As hulle wel deur die kommissie ondersoek word, dan moes hulle net soos enige ander geïmpliseerde persoon in kennis gestel word daarvan sodat hulle hul regte kan uitoefen.”

Zuma is teleurgesteld dat die banke aan só “onwettige ondersoek” deelneem. “Nie eers die apartheidsregime het met die banke gekonkel dat privaat rekeninge van kinders, wie se ouers deur die staat vervolg word, ondersoek word nie.”

Hy sê hy duld nou al “teistering en meedoënlose beswaddering” die afgelope 25 jaar. “My teenstanders het nou besluit om my kinders te teiken en dit is waar ek die lyn trek. Die teistering van my kinders is ʼn oorlogsverklaring. Die stelsel het die grens oorgesteek en ek sal baklei met alles wat ek het.”

Volgens Zuma word sy kinders deur die Sunday Times geteister, “dieselfde koerant wat vir die wêreld gelieg het toe hulle sê ek besit ʼn huis in Doebai”. “[Die koerant] is nog nooit aanspreeklik gehou vir dié leuen nie. Ons sal uitvind wie sit agter die agenda van die Sunday Times en wat sy redakteurs en eienaars aanmoedig om my familie te vervolg. Wanneer hierdie redakteurs weer Stellenbosch besoek om die ring van die koning te soen en goedkeuring te soek, wil ek hê hulle moet weet, toe hulle ʼn oorlog teen my kinders verklaar het, het hulle ʼn oorlog teen my verklar en ek sal daarop reageer. Dit geld ook vir die ondersoekbeamptes wat die magte van die kommissie oortree om teen my en my kinders te baklei. Ek sal hulle oorwin. JULLE SAL MY NIE ONDERKRY NIE,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Politikus ·

Begin dit nou lyk asof die gewese president dalk iets het om weg te steek? Sê nie….vra maar net

jzjz05 ·

Wat wil hy wegsteek? ,As sy kinders onskuldig is hoef hul niks te vrees nie.

Eltan ·

Presies…maar ons almal weet dat kaders se families en vriende gebruik word om die geld deur hulle rekeninge te was…so ondersoek maar gerus…as hul niks het om weg te steeek nie..hoekom dan so groot bohaai daaroor maak huh?

Dries ·

Hy reageer heftig nê. Baie om weg te steek. Waar is al daai geld heen, praat net man

Piet ·

Hyt nie gedink Zondo gaan sò vêr krap nie, hier gaan nog lelike goed uitkom,,,

Mariana ·

Dit sou simpel en dom gewees het om dit nie te doen nie. Of is daar dalk iets wat hy nie wil hê moet gevind word nie. Dalk kwessie van soos die pa so is ook die kinders?

Stefan ·

Hoekom so woedend?
Daar gaan mos niks verkeerd gevind word nie.

Pietertjie ·

Ha Ha mister Zuma: die vure begin nou vinniger brand as wat jy dit probeer blus!

Kokerboom ·

Weerhou net sy salaris en ander belastingbetalersgeld wat so onregmatig aan die skurk betaal word! Dan sal ons sien watter deuntjie sing hy!!!

Lizelle ·

As mens vas glo jy is onskuldig, gee jy nie om wie waar gaan krap nie.

Jaco ·

Kom nou Zuma moet nou nie so naief wees nie. Moet nie nou kwaad raak nie. Die regter doen net sy werk.

Sarel ·

Alweer verslaggewers wat aan Zuma se kant is of deur oppertunistiese berigte Zuma wil bevoordeel

Strandloper ·

Ha ha die grootste skurk in ons geskiedenis dink nou ons is so dom soos hy?

JohanR ·

Lekker…..waaneer word ‘n “life audit” op NDZ gedoen? Die geraamtes gaan darem uit daai kas val!

Wondermaarnet ·

Hulle gaan ‘n groot container nodig kry om al daardie geraamtes in te liaseer.

Johann ·

Shame? Arme onskuldige Zumpies. Hulle het met so ‘n rolmodel groot geword.

Scalla ·

Hul kan dan sommer n familie byeenkoms elke dag saam in die tronk hou. Die een se Porche behoort n goeie prys te gaan op n veiling. Die Guptas het lekker staats geld terug geploeg in die klomp.

Snowball ·

Vinnig om uit te wys wat is reg en verkeerd – ironies dat dit kom van Skelm nr 1.

JM ·

En sy regsadviseurs skryf kommentaar vir die vale, Zuma is nie in staat om dit so te doen nie. Hy kan dan nie eers behoorlik tel nie …

Dirk Mostert ·

Die kanse om enigiets van Zuma te verhaal is maar skraal. Sy kinders het voordeel getrek uit hul familiebande met die gewese president. Daarom moet hul bates ook geteiken word. Maroela Media kan gerus vir ons die ITC-Kumba saga van ‘n paar jaar gelede afstof.

Wondermaarnet ·

As hy niks het om weg te steek nie, waarr woedend wees? Tyd dat al sy vrouens se rekeninge ook ondersoek word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.