Zuma wou hê Montana moes by Prasa aanbly

Transnet-voorsitter Popo Molefe (Mei 2019) (Foto: Nhlanhla Phillips/ African News Agency/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma het in 2015 probeer inmeng om seker te maak dat Lucky Montana aanbly as die uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), ondanks ʼn rits korrupsieaanklagte teen Montana.

Dit was Vrydag die getuienis van Transnet-voorsitter Popo Molefe voor die Zondo-kommissie van ondersoek teen bewerings van staatskaping. Molefe was in daardie stadium voorsitter van die Prasa-raad.

Die entiteit is tans onder die sorg van ʼn administrateur terwyl die organisasie steier teen verliese van miljarde rand. Montana het vyf jaar gelede onder ʼn wolk van aanskaffingsonreëlmatighede bedank.

Molefe het gesê nadat Montana bedank het, het Zuma en die voormalige minister in die presidensie, Jeff Radebe, probeer om die raad te oorreed om die aanvaarding van sy bedanking terug te trek.

Montana het in Junie 2015 sy bedanking ingedien en die raad het dit aanvaar, maar besluit dat hy ʼn paar maande lank nog in die amp sou aanbly terwyl die maatskappy ʼn gepaste plaasvervanger kon vind.

Molefe is daarna na ʼn vergadering genooi met Radebe en die voormalige minister van vervoer, Dipuo Peters, by die presidensiële gastehuis in Pretoria. Die vergadering is vir twee ure vertraag en toe hy sê dat hy gaan vertrek, het hy gesien hoe Montana en die sakeman Roy Moodley saam met Zuma uit ʼn vertrek gestap het. Hy was verbaas dat die president hom en twee ministers laat wag het, terwyl hy met die hoof van ʼn staatsinstansie vergader het.

“Montana was in een van die vertrekke saam met Moodley. Ek weet nie wat hulle bespreek het nie. Ek was verbaas dat hulle die geleentheid gehad het om met die president te vergader bo ʼn voorsitter en ʼn minister. Montana het in daardie stadium ook nie enige status gehad by Prasa nie,” het Molefe bygevoeg, aldus IOL.

Hy het getuig hy was nog meer verbaas dat toe die vergadering uiteindelik begin het, Zuma Montana genooi het om ook in te sit.

Zuma het Montana geloof as ʼn “hoogs gekwalifiseerde individu wat ʼn bate is vir die regering en toegelaat moet word om terug te keer na Prasa”. Hy het gesê Zuma het volgehou die raad moet sy besluit omkeer om hom te laat gaan.

“Die president het gesê hierdie jong man [Montana] is ervare en het die vaardighede wat die land nodig het en, in sy mening, moet die land hom nie verloor nie en ʼn oplossing moet gevind word om sy vaardighede in die maatskappy aan te wend.

“Die oplossing wat hy [Zuma] voorgestel het, was dat die besluit omgekeer moet word. Hy het versoek dat dit hersien moet word. Dit is ʼn onhoudbare situasie en daar is nie ʼn manier hoe iemand dit kan verduidelik nie,” het Molefe gesê.

Molefe het gesê hy het aan Montana probeer verduidelik dat hy nie afgedank is nie, maar dat hy self bedank het.

“My reaksie was dat ek nie ʼn besluit kon neem in ʼn private spasie oor ʼn besluit wat deur die raad geneem is nie. Ek het verduidelik dat Montana nie sy kontrak wou verleng nie. Ek het gesê ek sou graag ʼn raadsvergadering reël waar [Zuma] aan die raad kon verduidelik wat sy probleem met die besluit is.”

Molefe het gesê Montana is die geleentheid gebied om sy griewe te lug.

Die vergadering het uiteindelik omstreeks 02:00 tot ʼn einde gekom toe Zuma ingesluimer het.

Molefe het gesê hy was geskok oor die vlak van poging tot inmenging deur uitvoerende lede. “Die staatshoof van Suid-Afrika en die regerende party het nou direk gepoog om in te meng in sake van die Prasa-raad.”

Voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela het in haar verslag, genaamd Derailed, wat laat in 2015 vrygestel is, Montana geïmpliseer in wanadministrasie en onreëlmatige uitgawes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Venter ·

Per Netwerk24 is Pres. Cyril Ramaphosa een van die ANC se topleiers wat in 2015 al geweet het van grootskaalse korrupsie by die Passasier spoor agentskap (Prasa).

Molefe het gister voor die Zondokommissie getuig hy het in 2015 met vyf van die ANC se top ses leiers vergader. Oudpres. Jacob Zuma, Cyril Ramaphosa, toe adjunkpresident, Gwede Mantashe, toe sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte, toe adjunk-sekretaris-generaal, en Zweli Mkhize, toe tesourier, was teenwoordig.

Molefe sê hy het aan hulle verduidelik hoe sy raad gesukkel het om korrupsie by Prasa te takel, en hy het ook uitgewei oor die voorlopige verslag van die openbare beskermer, wat bevindinge van korrupsie en wanadministrasie vervat het.

“Hulle het baie goed geweet, en hulle het niks gedoen nie,” het hy getuig.

Cherokee ·

Dien die Zondo-kommissie enige doel? En indien wel, watse doel? Zuma is wel vrekbang vir die kommissie want hy weet hy praat sy bek verby. Die kommissie is veronderstel om soos ‘n seekat te wees wat die staat-skakers met lang tentakels bymekaar sleep, maar dit begin lyk na ‘n doellose instelling. Dalk is dit ‘n ander skaking want miljoene rande word daaraan spandeer, sonder enige opsigtelike doel.

Willie ·

So gaan hulle aan en aan en elkeen is meer ongeleerd as die ander een. Swak leiers stel ook leiers aan wat swakker as hulle is pmdat sterk leiers n bedreiging vir swak leiers is. Zuma is n voorbeeld daarvan.

Oros Soros ·

Molefe wil ‘n mening uitspreek? Hy is staatskaper par excellence

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.