Zwane het nie Indië-reis verklaar nie, sê DA

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne

Die Demokratiese Alliansie sal die openbare beskermer versoek om ondersoek in te stel nadat Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, vermoedelik die Vrystaatse wetgewer mislei het toe hy versuim het om ʼn reis na Indië te verklaar wat deur die welgestelde Gupta-familie betaal is.

“Die DA kan bevestig dat minister Mosebenzi Zwane versuim het om sy reis na Indië in Oktober 2012 te verklaar,” het James Lorimer, woordvoerder van die DA, Sondag gesê.

Die Gupta-familie het glo sy reiskoste betaal nadat Zwane suksesvol die Vrystaatse regering oorgehaal het om “ʼn 4 400 hektaar plaas en R114 miljoen in finansiering in Junie 2012 aan ʼn obskure Gupta-geaffilieerde maatskappy Estina te skenk”.

Die DA het die verklarings van ledebelange van die Vrystaatse wetgewer ondersoek, waar Zwane in daardie stadium ʼn LUR was, en kan bevestig dat Zwane glad nie hierdie geskenk van die Guptas genoem het nie.

“Ons sal dus ʼn formele klag by die openbare beskermer indien teen die minister van minerale hulpbronne dat hy die Vrystaatse wetgewer mislei het,” het Lorimer bygevoeg.

“Versuim om geborgde internasionale reiskoste te verklaar en uitvoerende beamptes wat hul posisie misbruik om hulself te verryk of wat enige ander persoon onbehoorlik bevoordeel, is ʼn oortreding van artikel 2 (c) (ii) en artikel 2 (b) (iv) van die Etiekwet vir Uitvoerende Lede.

“Die verrotting van die Guptas se staatskaping het diep wortels in die ANC en strek selfs tot op provinsiale vlak. Die openbare beskermer moet die oortreding ondersoek en die minister aanspreeklik hou vir sy rol in die kaping van ons regering. Die ANC het alles in sy vermoë gedoen om die Guptas te verryk terwyl ons mense in armoede vasgevang bly,” het Lorimer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jordaan ·

Die arme DA versoek ondersoeke in hulle malle verstand in en daar kom nooit enigiets van nie, want Zuma se pelle smeer net toe. Siek en sat vir hierdie gemors.

Hasie ·

Ek stem heel hartig saam met Jordaan. Die DA en die nuusmedia kom met al hierdie onthuldings en gemors van die ANC, maar dit is waar dit eindig. Niks gebeur nie, alles stoom net voort. Geen keer aan die korrupte staatspresident van SA en sy aanhangers nie.

Hasie ·

Zuma hoef nie te spog dat hy nooit op skool was nie, almal kan dit sien op hoe hy die land bestuur.

Johann Gupta ·

Ek wil ook ‘n 4 400 hektaar plaas hê en R114 miljoen se finansiering? In ruil vir ‘n paar vliegkaartjies Indië toe….Ag toe nou, komaan….met wie moet ek praat?

Leendert ·

Dan is hierdie man ook nog besig om ‘n gat vir die myne te grawe. Oral waar daar geld oor is, soos ook die boere, sit hulle planne op die tafel om dit kaal te steel, om ‘n nog groter deel van die koek. Dis is verseker op pad Zim toe.

Bach ·

Die ANC lag vir ons. Kom met als weg.Toe nou DA wys jul verdien daai groot salarisse.

Adam ·

Word daar erens rekord gehou van die ondersoeke wat aangevra word Ek lees weer die naweek van Maruis Fransman se vervoer flop in die Weskaapse se regering jare gelede maar kon nerens iets vind wat die uitslag van die ondersoek was nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.