SA PEN besorg oor Dasnois-afdanking

Alide Dasnois

Alide Dasnois

Die Suid-Afrikaanse sentrum vir PEN International het Maandag gesê hy is besorg oor die afdanking van Alide Dasnois, die redakteur van die Cape Times.

“SA PEN is van mening dat die nuwe eienaar van Independent News and Media SA (INMSA) nog nie die kosbare en universele konsep van redaksionele onafhanklikheid begryp nie,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

PEN is ‘n nie-politiese organisasie wat skrywers wêreldwyd verteenwoordig.

Dasnois is op 6 Desember afgedank nadat die koerant ʼn artikel gepubliseer het wat die koerantgroep se aandeelhouer, Sekunjalo, in ʼn negatiewe lig geplaas het. Die afdanking het ʼn herrie veroorsaak, veral in mediakringe.

Die berig het gehandel oor ʼn bevinding deur Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, dat ʼn tender wat deur die departement van landbou, bosbou en visserye aan Sekunjalo Marine Services Consortium toegeken is, onbehoorlik was. Dié konsortium is ʼn filiaal van Sekunjalo Holdings en het vroeër vanjaar ʼn besturende aandeel in INMSA bekom.

Sekunjalo Investments het gevolglik ʼn prokureursbrief aan die Cape Times gestuur waarin hulle aanvoer die storie is nie feitelik korrek nie.

Gasant Abarder is in Dasnois se posisie aangestel.

Iqbal Surve, die voorsitter van INMSA, het intussen ontken dat Dasnois afgedank is, en het gesê sy is slegs na ʼn ander redaksionele posisie verskuif.

“Die SA PEN ondersteun enige poging om die redaksionele onafhanklikheid van die Cape Times en die werksekuriteit van joernaliste in die INMSA-groep te herstel,” het die organisasie gesê.

Dasnois het intussen regsadvies ingewin.

Lees ook:
SANEF soek antwoorde ná redakteur se afdanking
Redakteur glo gepos ná berig oor Joemat-Pettersson

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.