SA se Al Qaeda-ondersoek glo gestaak

Argieffoto van Al Qaeda in Somalië Foto: www.foreignpolicy.com

Die Demokratiese Alliansie (DA) wou Maandag weet waarom ‘n ondersoek na Al-Qaeda-aktiwiteit in Suid-Afrika gestaak is.

“Suid-Afrikaners verdien ‘n verduideliking oor wat gebeur het en waarom die ondersoek gestaak is,” het Dianne Kohler-Barnard, woordvoerder van die DA, gesê. “Indien daar geen terreur-bedreiging is nie, dan moet misdaad-intelligensiediens hul redes kan aangee.”

Kohler-Barnard beplan glo om ‘n skrywe aan Annelize van Wyk, voorsitter van die polisie se portefeuljekomitee, te rig en te versoek dat Chris Ngcobo, waarnemende hoof van misdaad-intelligensie, en Nathi Mthethwa, minister van polisie, die komitee dringend oor die situasie moet toespreek. “Dit is geweldige ernstige aantygings, wat ‘n impak op nasionale sekuriteit en internasionale betrekkinge kan hê. Dit kan nie ignoreer word nie,” het sy gesê. “Minister Mthethwa moet in die parlement duidelikheid oor die situasie verskaf.”

Die Valke wou vroeër nie kommentaar lewer oor ‘n verslag dat die polisie en die staatsekerheid-agentskap (SSA) Al-Qaeda “terroriste-opleiding” in Suid-Afrika monitor sonder om aksie te neem nie. “Geen kommentaar. Dit is nie ons beleid om oor voortdurende ondersoeke kommentaar te lewer nie,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, Maandag gesê.

Die Daily Maverick het berig dat die SSA en die polisie se eenheid, wat misdade teen die staat ondersoek, aktiwiteit op ‘n plaas buite Pretoria, naby die apartheid-martelkamp Vlakplaas, en op ‘n afgeleë plaas in die Klein Karoo, monitor. “Operasie Kanu” het glo net ná die 9/11 World Trade Centre-aanval in Amerika, in werking getree om “aktiwiteit van Moslem-ekstremiste” in Suid-Afrika te ondersoek. ‘n Parallele ondersoek na verregse aktiwiteit, “Operasie Waco”, wat tot die Boeremag-hoogverraadverhoor gelei het, het in dieselfde tyd begin.

Britse en Amerikaanse intelligensie-agentskappe het glo druk op die Suid-Afrikaanse regering geplaas om teen enige moontlike Moslem-terreurbedreiging, wat vanuit die land mog spruit, op te tree en Suid-Afrika gewaarsku om dié kwessie nie ligtelik te hanteer nie. “Die feit dat geen bomme tot dusver in die land afgegaan het nie, beteken nie dat die bedreiging nie binne Suid-Afrika se grense bestaan nie,” het hulle glo gewaarsku.

Volgens die Daily Maverick is “verskeie lede van die bekende en invloedryke Dockrat-familie in die binnekring van dié beweerde terroriste-netwerk”. Farhad en Junaid Dockrat se name is glo aan die Al-Qaeda en Taliban-sanksiekomitee van die Verenigde Nasies se veiligheidsraad, gestuur, maar Suid-Afrika het glo ‘n onbepaalde houvas op die aanwysingsproses geplaas. Die Dockrats het glo enige verbintenis aan Al-Qaeda of enige ander militante-groep ontken.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

flad ·

Mense, mense, mense. Dis nie die polisie wat besluit het hulle gaan die ondersoek staak nie. Vra wie het hulle opdrag gegee om die ondersoek te staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.