“SA se domste misdadiger”

ʼn Man is in hegtenis geneem nadat hy werk gesoek het by die eienaars van ʼn huis wie hy glo vroeër beroof het.

Times Live berig dat die vermeende misdadiger glo dieselfde klere aangehad het wat hy vermoedelik vroeër by die huis gesteel het. Volgens die eienaar van die huis in Port Elizabeth het die vermeende misdadiger omstreeks 11:00 Sondagoggend aan sy deur geklop en gevra of hy in die tuin kan werk. “Toe ek die deur oopmaak was ek verbaas om te sien dat hy ons klere aan het.” Die vermeende misdadiger het glo die eienaar se skoene, kouse, gordel, broek en een van sy verloofde se bloese aangehad. Die eienaar van die huis sê hy is onmiddellik na die stoorkamer agter in die erf waar hy gesien het hulle is beroof. “Ek en my verloofde was besig om te pak, aangesien ons verhuis. Meeste van ons klere en beddegoed is in die stoorkamer gebêre. Ek kon nie sy vermetelheid glo nie. Ek het hom aangehou en die polisie geskakel, maar hulle het ná 45 minute steeds nie opgedaag nie.” Die vermeende misdadiger het ontsnap, maar is later deur veiligheidswagte in hegtenis geneem. Die eienaar van die huis het die beweerde misdaad op ʼn Facebook-groep aangemeld waar die vermeende misdadiger as “SA se domste misdadiger” gedoop is.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.