Suid-Afrika se ekonomie is nou effens vryer as die vorige jaar, aldus die Wall Street Journal en die Heritage Foundation se 2014-indeks wat pas bekend gemaak is. Suid-Afrika se gemiddelde telling is nou 62,5 teenoor die vorige jaar se 61,8 en die land beklee nou die 75ste algemene posisie.
Suid-Afrika se gemiddelde punt is egter nog laer as die 62,7 wat die land in 2012 en 2011 behaal het.
Wat die subindeks betref vir vryheid om eiendom te besit, bly Suid-Afrika se telling vir die vier jaar onveranderd op 50.
Wat vryheid van korrupsie betref, is dit geen verrassing nie dat Suid-Afrika agteruit boer. In 2011 is Suid-Afrika nog teen 47 aangeslaan, in 2012 teen 45, in 2013 41, en nou effens beter teen 41,6. Dit klop min of meer met Transparency International se Korrupsiepersepsie-indeks waar die land die afgelope vier jaar met ongeveer 20 plekke teruggesak het.
Wat fiskale vryheid betref, het Suid-Afrika nou die laagste telling in vier jaar, naamlik 68.7, nadat dit in 2012 nog op 70,7 te staan gekom het.
Handelsvryheid het ook die afgelope drie jaar effens afgeneem, maar staan steeds op ‘n hoë 74,3. Arbeidsvryheid bly problematies, en het nou tot 54,4 gedaal, teenoor ‘n hoogtepunt van 57,3 in 2012.
Die volledige vergelykende indeks is hier te lese.
Die Wall Street Journal berig dat die VSA weens toenemende regulering agteruitboer, en bring dit in regstreekse verband met die ekonomie wat sukkel om op dreef te kom. Dit terwyl die wêreld nou rekordvlakke van ekonomiese vryheid bereik vir die twintig jaar wat die indeks opgestel word. Hong Kong, Singapoer en Australië word as die beste presteerders uitgewys.
Mauritius vaar die beste onder die Afrikalande, en Botswana se ekonomiese groei word regstreeks verbind met die stappe om sy ekonomie vryer te maak.
Die volledige artikel van die Wall Street Journal kan hier gelees word met die jongste indeks volgens rangorde daaronder.