SA se goue seun Cameron

Cameron van der Burgh

Die swemmer Cameron van der Burgh (24) het gisteraand Suid-Afrika se eerste goue medalje in agt jaar gewen by die Olimpiese Spele.

Van der Burgh het met sy tyd van 58,46 sekondes die wêreldrekord verbeter en Suid-Afrika se eerste medalje gewen tydens vanjaar se Spele in die 100m borsslag vir mans. Christian Springer van Australië was tweede terwyl Brendan Hansen van Amerika met die derde plek tevrede moes wees. Ryk Neethling, Roland Schoeman, Darian Townsend en Lyndon Ferns het tydens die Olimpiese Spele in 2004 Suid-Afrika se laaste Olimpiese goue medalje gewen. Van der Burgh het tydens die halfeindronde reeds sy persoonlike beste tyd en die wêreldrekord verbeter. “Dit is ʼn gevoel wat ek nie nou kan beskryf nie,” het Van der Burgh na afloop van die resies gesê. “Die afgelope vier jaar was baie harde werk.”

Intussen is Suzaan van Biljon uit die 100m borsslag vir vroue geskakel nadat sy sewende geëindig het tydens die halfeindronde. Charl Crous en Wendy Trott kon ook nie daarin slaag om vir hul onderskeie items te kwalifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.