SA se waterkwaliteit steeds hoog; Gauteng die beste

SA se waterkwaliteit bly steeds hoog en Gauteng se drinkwater is van die beste in die land. Foto: cmn.com

Suid-Afrika se drinkwater is van die beste in die wêreld en Gauteng spog met die beste waterkwaliteit in die land.

Minister van waterwese, Edna Molewa, het hierdie week die 2012 Blou Druppel-status verslag in die Kaapstad bekendgemaak. Blou Druppel-status word sedert 2009 toegeken om munisipaliteite aan te spoor om hulle waterbestuur te verbeter terwyl dit terselfdertyd verbruikers oor die kwaliteit van hulle drinkwater inlig.

Ekurhuleni in Gauteng was een van die munisipaliteite met die hoogste waterkwaliteit met ʼn punt van 98,95%. Johannesburg was tweede met 98,92% gevolg deur Mogale met 98,79%. Hierdie munisipaliteite is gevolg deur Ethekweni in KwaZulu-Natal, Tlokwe in Noordwes en Kaapstad. Provinsiegewys is Gauteng se drinkwater die beste, gevolg deur die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Die res van die provinsies het almal ʼn punt onder die nasionale gemiddeld van 87,6% behaal met Mpumalanga se water as die swakste (60,9%) gevolg deur die Noord-Kaap (68,2%). Die Noordwes provinsie het die grootste verbetering behaal. Die provinsie se waterkwaliteit het van 62,3% in 2011 na 78,7% verbeter.

Die Victor Kanye munisipaliteit (Delmas) in Mpumalanga het die grootste verbetering gehad. Die munisipaliteit het van 18,26% tot 80,07% vanjaar verbeter. Thembisile munisipaliteit, ook van Mpumalanga, het ook ʼn reuse verbetering beleef.
Molewa het egter haar kommer uitgespreek oor die munisipaliteit met die laagste resultaat. Koukamma (5,6%) en iKwezi (7,9%), beide in die Oos-Kaap, was tussen die 15 munisipaliteite wat waarskuwings oor hulle waterkwaliteit ontvang het.

“Ons het die gemeenskappe gewaarsku om nie kraanwater te drink voordat hulle dit gekook het nie,” het sy gesê. Haar departement is egter besig om saam met die munisipaliteit te werk om die kwaliteit van die drinkwater te verbeter aangesien hulle weet waar die probleme lê en hoe om dit te verbeter.

Volgens Molewa het daar vanjaar 98 munisipaliteit Blou Druppel-status behaal tenoor verlede jaar se 66, ʼn beduidende verbetering. Die nasionale resultate het van 72,9% na 87,6% gespring terwyl al nege die provinsies verbeter het op hulle resultate van verlede jaar.

Daar is ʼn totaal van 931 waterstelsels in 153 van Suid-Afrika se 287 munisipaliteit vir die verslag ondersoek.

Lees hier vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.