SA sendeling help vlugtelinge uit Oekraïne

Mense skuil in Oekraïne. (Foto: Aris_Messinis/AFP)

ʼn Suid-Afrikaanse sendeling bied kos en slaapplek vir mense wat uit Oekraïne wil vlug weens die grootskaalse chaos wat hier woed sedert Rusland die land ingeval het.

Dié weldoener, wat liefs anoniem wil bly, het ʼn somber prentjie geskets van wat tans in Oekraïne aan die gang is en vertel van die tekort aan kos, brandstof en selfs blyplek vir dié wat desperaat probeer om by die grens te kom.

Daar is egter ook positiewe verhale in die pogings wat aangewend word om die land se mense te beveilig.

Die Suid-Afrikaner is al vir meer as ʼn jaar in die land en bly aan die weste van Oekraïne naby die Roemeense grens. Haar presiese ligging is egter nie bekend nie.

Sy meen dat die gebied waar sy tans gevestig is nie in onmiddellike gevaar verkeer nie, daarom stroom hordes vlugtelinge van elders in die land daarheen.

“Ons is hier geplaas as ʼn veilige hawe om vlugtelinge te bedien,” sê sy.

“ʼn Hele paar families stop hier op pad na die grens, so ons voorsien hulle van die nodige vervoer, kos en hulp voordat hulle landuit vlug.”

ʼn Aantal vlugtelinge bly tans saam met haar in haar woonstel, maar sy beplan om binnekort haar tuiste op te gee vir nog mense wat vanaf Kiëf kom. Dié stad is onlangs deur Rusland oorrompel.

“My dae is gevul met voortdurende pogings om al die vlugtelinge kos te gee. In die aande kom ons plaaslike gemeenskap van gelowiges bymekaar om vir die land te bid.”

Volgens die sendeling is dit deur die Here se genade dat hulle soveel vlugtelinge kan help, aangesien dit moeilik raak om basiese hulpbronne in die hande te kry.

“Daaglikse voorrade raak al hoe moeiliker om te kry en kos is skraps,” sê sy.

“Talle basiese dienste en geriewe soos die posdiens en administratiewe prosesse [wat die regering bied] het ook opgehou werk.

“Boonop is die kitsbanke en vulstasies leeg en paaie is versper. Sommige dorpe het kragonderbrekings aangemeld en potensiële telekommunikasie-onderbrekings moet op enige gegewe tydstip verwag word.”

Sy sê daar was al bomme en missiele wat honderde kilometers van hulle af geval het, maar dat dit nie so erg is soos in vergelyking met dít wat in die noorde en ooste van die land aan die gang is nie.

Dié jong sendeling is nie van plan om uit die land te vlug nie, maar vertrou die Here vir haar volgende bewegings.

“Die vraag wat ek myself altyd afvra, is: ‘Waar wil God hê moet ek help?’ As ek dan wel Oekraïne moet verlaat, sal ek graag na Wes-Europa wil reis om behoeftiges daar te bedien,” sê sy.

“Maar, vir mense soos ek hou die bediening nooit op nie – veral nie in ʼn oorlogsituasie nie. Ons vlug nie, ons dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.