SA so korrup soos voorheen, wys indeks

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Suid-Afrika se posisie op Transparency International se jongste korrupsiepersepsie-indeks bly feitlik onveranderd en in dié 2020-indeks word die land steeds beskou as een van dié met ʼn ernstige korrupsieprobleem. Die indeks wys ook daarop dat korrupsie wêreldwyd veral tydens Covid-19 gedy het.

Die indeks meet jaarliks 180 lande en gebiede aan die korrupsievlak aldaar en werk op ʼn skaal van nul tot 100 waar nul erg korrup is en 100 baie skoon is. Wêreldwyd word hierdie indeks beskou as die toonaangewende aanwyser van korrupsie, veral in die staatsdiens.

Suid-Afrika is 69ste op die lys van 180 lande met ʼn telling van 44 uit 100. In 2019 was Suid-Afrika 70ste op die lys met presies dieselfde puntetelling. Lande soos Bulgarye, Hongarye, Jamaika, Roemenië en Tunisië het dieselfde as Suid-Afrika gevaar, terwyl ander Afrika-lande veel beter tellings ontvang het.

“Die feit dat Suid-Afrika nie meer as 50 in byna ʼn dekade behaal het nie, bewys net die omvang van korrupsie en hoe skadelik dit vir die land is,” sê David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, ʼn plaaslike organisasie wat korrupsie beveg.

Uit al die streke bly Afrika suid van die Sahara die laagste op die indeks met ʼn gemiddeld van 32 uit 100. Dít terwyl die wêreldwye gemiddeld 43 is. Seychelle is boaan dié groep van 49 lande met ʼn telling van 66, gevolg deur Botswana (60) en die Kaap Verdiese Eilande (58). Somalië en Suid-Soedan het albei onder aan die indeks beland met 12 uit 100.

Suid-Afrika is nie alleen in sy stryd teen korrupsie nie. Corruption Watch het in ʼn verslag aangedui dat twee derdes van lande wêreldwyd ʼn telling van minder as 50 ontvang het en dus baie korrup is. Sedert 2012 het net 26 lande hul telling verbeter, terwyl 22 sʼn verswak het. Dit dui daarop dat regerings se pogings om iets aan die kernoorsaak van korrupsie te doen gefaal het.

Impak van Covid-19

Corruption Watch sê vanjaar se verslag van Transparency International beklemtoon hoe korrupsie lande se vermoë om die Covid-19-pandemie te bestuur, beïnvloed het.

Volgens die verslag is lande waar korrupsie meer indringend is die minste toegerus om krisisse soos ʼn wêreldwye pandemie te hanteer. In lande met laer puntetellings is geld vir gesondheidsorg andersins herlei. Dit het talle gemeenskappe sonder dokters, toerusting, medisyne en in sommige gevalle, klinieke en hospitale gelaat.

In Suid-Afrika het die instelling van streng afsonderingsregulasies, tesame met bewyse van bedrog en korrupsie grootskaalse onrus en wantroue veroorsaak.

“Die openbare vertroue in die regering het drasties afgeneem nadat dit aan die lig gekom het dat hulpbronne blatant misbruik word,” sê Lewis.

Lande met hoër vlakke van korrupsie is ook meer geneig om demokratiese regte te verontagsaam tydens die bestuur van die Covid-19-pandemie.

Nietemin het lande met ʼn hoër puntetelling ook grootskaalse korrupsie tydens die Covid-19-pandemie gesien.

“Die pandemie is nie meer net ʼn gesondheid- en ekonomiese krisis nie. Dit is ʼn korrupsiekrisis, en een wat ons tans sukkel om te bestuur,” sê Delia Ferreira Rubio, voorsitter van Transparency International.

Corruption Watch sê dat deursigtigheid en die beskerming van demokrasie die fondasie vorm van ʼn korrupsievrye wêreld.

“Toenemende pogings om korrupsie tydens die pandemie bloot te lê en om deursigtigheid te bevorder kan moontlik die wêreldwye korrupsiekrisis omkeer, mits daar die politieke wil is om besluite wat in die openbare belang is, aan te kondig,” sê Lewis.

“Met die regte houding en toewyding asook verandering aan beleid en prosesse het Suid-Afrika ook die vermoë om in die toekoms uit sy stagnerende posisie te kom en korrupsie te verminder,” sê Lewis.

(Grafiek: Transparency International)

(Grafiek: Transparency International)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Boksombende ·

Dis so jammer om te sien ons is so korrup. Hartseer vir ‘n land vir wie ek so lief is.

Harry ·

Hierdie is soos jou “credit score”. 44/100 beteken dat die bank of nie vir jou sal geld leen nie, of dit ‘n koers van sowat 32% pj. Volgende is jy word op die swartlys geplaas. Ek is ook lief vir hierdie land.

Pieter ·

Bring my n land in afrika wat nie korrup is nie. Dit is hoe kommuniste werk pkunder als wat voor kom.

Schalk ·

Die syfers vly ons land . Ek dink ons is nader aan onder op die lys of ten minste nader aan Zimbabwe. Skokkend hoeveel Afrika lande laag op die lys is.

Dup ·

Skryf nou in vir die 2021 kursus by die Korrupsie Kollege SA.
Dit is ñ 10jaar kursus met bedrog en korrupsie as hoofvakke.
Ons konsultante sal(teen ñ geringe fooi….) al u aansoek vrae binne twee maande beantwoord.Skryf nou in en word n professionele bedrieër en swendelaar….

Hoekom ·

Natuurlik, en ons gaan daar bly. Want niemand in die staatsdiens wat uitgevang word gaan tronk toe nie. So hoekom dan nou nie pluk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.