SA-soldate dalk weer na SAR ontplooi

Soldate sing tot eer van hul gevalle kollegas by Swartkop-lugmagbasis Foto: Werner Beukes/SAPA

Die besluit of Suid-Afrikaanse soldate weer na die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) ontplooi sal word, sal later hierdie week gemaak word.

Die Sunday Times berig dat, indien die troepe gestuur word, hulle hierdie keer as ‘n vredesmag na dié land gestuur sal word en by die 2 000-sterk SAR-multinasionale mag sal aansluit. Die mag sal die oorgangsregering in SAR ondersteun.

President Zuma het Donderdag aan verslaggewers by ‘n beraad in Chad gesê dat hy ‘n “emosionele versoek” van die leiers van die ekonomiese gemeenskap van die Sentraal-Afrikaanse State (Eccas) ontvang het. “Die regering oorweeg die versoek,” het Clayson Monyela, woordvoerder van internasionale betrekkinge, gesê.

Leiers van opposisie partye doen ‘n beroep op die parlement om die besluit noukeurig te ondersoek. David Maynier van die Demokratiese Alliansie (DA) het aan die koerant gesê Zuma het die parlement mislei oor die redes waarom SA-soldate aanvanklik na die SAR toe gestuur is. “Dit sal nie ‘n wyse besluit wees nie,” het Mosiuoa Lekota, leier van Cope, gesê. “Om die vrede te ondersteun beteken nie jy moet wapens opneem en na ‘n ander land toe gaan nie.”

Zuma het vroeër die week gesê hy gaan die ontplooiing van meer as 2 000 soldate na Sudan en die Demokratiese Republiek van Kongo met nog ‘n jaar verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.