SA soldate dood, gewond in geweld in SAR

Argieffoto van Suid-Afrikaanse soldate. Foto: GCIS/SAPA

Die weermag het bevestig dat Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek doodgeskiet is nadat rebelle die naweek die hoofstad Bangui oorgeneem het.

Brig. Gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, sê hulle probeer tans steeds vasstel hoeveel Suid-Afrikaanse soldate dood of gewond is in die geweld. Volgens Mabanga het rebelle Saterdag met soldate slaags geraak by ‘n weermagbasis aan die buitewyke van Bangui. Die hoofstad is later deur die rebelle oorgeneem en president Francois Bozize het saam met sy familie gevlug nadat rebelle gedreig het om hom uit die kussing te lig. Dit is nog nie duidelik waar hy hom tans bevind nie. ʼn Vredesooreenkoms is in Januarie onderteken waarvolgens Bozize toegelaat word om sy termyn wat in 2016 verstryk, te voltooi. Die rebelle beskuldig Bozize egter daarvan dat hy nie aan die beloftes wat gemaak is voldoen nie.

Volgens Mabanga ontplooi Suid-Afrika sedert 2007 troepe in die SAR nadat ʼn memorandum van verstandhouding deur die twee lande onderteken is. President Jacob Zuma het in Januarie meer troepe na die SAR ontplooi nadat veiligheid in die land agteruitgegaan het. Mabanga sê hy kan egter om “veiligheidsredes” nie bekend maak hoeveel Suid-Afrikaanse troepe in die SAR ontplooi is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.