SA-soldate ontsteld oor kinderrebelle

Oorskot van die gevalle SAR-soldate word by Waterkloof-lugmagbasis aan hul families oorhandig. Foto: Werner Beukes/SAPA

Suid-Afrikaanse soldate wat verlede week se rebelle-oorname van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) oorleef het, is getraumatiseer toe hulle uitgevind het dat sommige van die rebelle kindersoldate was.

Dertien soldate is verlede naweek in Bangui dood na ‘n skermutseling met Seleka-rebelle, wat pres. Francois Bozizé wou omverwerp. Dit is die grootste verlies vir die weermag sedert apartheid. Sowat 200 Suid-Afrikaanse troepe het teen sowat 3 000 rebelle tydens die stryd vir die SAR se hoofstad te staan gekom. Die skermutseling het ‘n hele paar uur lank geduur.

Van die oorlewendes wat teruggekeer het, het aan plaaslike Sondagkoerante gesê hulle het eers ná die skermutseling uitgevind dat hulle teen tienersoldate baklei het. “Dit is eers ná die skietery gestop het dat ons besef het ons het kinders doodgeskiet. Ons het nie gekom om kinders dood te skiet nie… Dit maak jou siek. Hulle het gehuil terwyl hulle om hulp geroep het. Hulle het hul ma’s geroep,” het ‘n valskermsoldaat aan die Sunday Times gesê.

Pres. Jacob Zuma het in Januarie die ontplooiing van 400 soldate na die SAR goedgekeur om plaaslike weermag by te staan. Slegs sowat 200 soldate is uiteindelik gestuur.

Van die SAR-rebelle was “tieners wat in die skool moes wees”, het die soldaat aan die koerant gesê.

Die City Press berig een soldaat het gesê talle van die rebelle was “maar kinders”. Die twee koerante het ook die soldate aangehaal dat Suid-Afrikaanse soldate nie meer baie ammunisie oor het nie.

Al hoe meer druk word nou op die Suid-Afrikaanse regering geplaas om ‘n ondersoek te las waarom troepe na die SAR gestuur is. Zuma sal na verwagting Woensdag ‘n buitengewone beraad van die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State (ECCAS) bywoon. Idriss Deby Itno, leier van Tsjaad, sal as gasheer van dié beraad optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.